MunicipalNews

Só lyk Bela-Bela se nuwe munisipale raad

Die nuwe raad van die Bela-Bela-munisipaliteit is op Maandag 22 November by Forever Resorts in die dorp ingehuldig.

Die inhuldiging het sonder enige vertragings afgeloop. Die ANC het tien setels, die DA drie, die EFF twee en die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) en die Better Residents Association (BRA) elk een.

Die topdrieposisies in die raad, naamlik dié van burgemeester, speaker en hoofsweep, is tydens dié vergadering verkies.

Gloria Seleka, ’n bekende gesig in ANC-kringe, is aangewys as die dorp se nuwe burgemeester. Dit is die tweede keer in die dorp se geskiedenis dat ’n vrou die burgemeestersketting dra.

Henriëtta Ledwaba was die eerste vroueburgemeester van Bela-Bela.

Die speaker-posisie is toegeken aan Nelly Zikhali (ANC) en Koos Sepuru (ANC) is as hoofsweep aangestel. Sepuru is die verkose wyk 8-raadslid.

Die ANC-raadslede wat die volgende vyf jaar op die raad sal dien, is Jeremia Ngobeni (wyk 6), Mary Koover (wyk 9), Henriëtta Ledwaba (wyk 5), Freddy Hlungwane (wyk 4), Shadrack Rachidumela (wyk 7), Pontsho Vision Mashaba (wyk 2) en Johannes Mabua (wyk 3).

In die DA-kamp bly Tinus Ras die raadslid van wyk 1. Die raadslede wat via proporsionele stemme tot die raad verkies is, is Rika Kruger (DA), Johan Mills (DA), Joseph Makhubela (BRA), Sinah Seale (EFF), Catherene Baloyi (EFF) en JeeDee Cloete (VF-Plus).

Die VF-Plus was beslis dié dorp se grootste verrassing by die stembus. Dié party het die vierde meeste stemme op hul verenig en só die eerste keer in die dorp se geskiedenis ’n raadslid verseker.

In die EFF-kamp het ’n partybesluit die wenkbroue laat lig toe die raadslid van die afgelope vyf jaar, Sello Moswoeu, nie as raadslid benoem is nie. Seale, wat saam met Moswoeu gedien het, se termyn is verlede Maandag hernu.

Verder is bekendgemaak dat drie raadslede — Seleka, Ngobeni en Ras — op die munisipale uitvoerende komitee sal dien.

Uitvoerende komitees word volgens die munisipale struktuurwet gekies indien daar meer as nege raadslede op die munisipale raad dien.

Dié komitee se werk is om verslae van die onderskeie munisipale subkomitees te ondersoek, na die raad te stuur vir finale besluitneming, om aanbevelings op terugvoerverslae te maak, behoeftes binne die munisipaliteit te identifiseer, toesien dat verordeninge uitgevoer word en om die gehalte van dienslewering te ondersoek.

Twee ander raadslede — Mills en Ledwaba — is tydens die verrigtinge gekies om as verteenwoordigers op die Waterberg-distriksmunisipaliteit te dien.

Distrikmunisipaliteite se doel is om tekortkominge binne plaaslike munisipaliteite aan te vul en is gemoeid met grond- en ekonomiese ontwikkeling om bepaalde wetgewing op munisipaliteite af te dwing en om toe te sien dat dienslewering deur die munisipaliteite in die distrik deurgevoer word.

Seleka, met die glinsterende burgemeestersketting om haar nek, het in haar eerste toespraak gesê daar is geen twyfel dat die meerderheid inwoners weer die ANC gekies het om munisipale aangeleenthede verder te bestuur.

“Ons is ten volle bewus van die uitdagings van die dorp, veral wat die verouderde infrastruktuur betref. Ons sal dienslewering opskerp, gereelde vergaderings met rolspelers hou en probleme deur middel van die munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan aanpak,” het sy gesê. “Ons belofte aan die mense van Bela-Bela is om as ’n etiese en verantwoordbare munisipaliteit erken te word. Elke inwoner sal in ’n gesonde en leefbare omgewing kan woon.”

Die raadslede wat op die onderskeie munisipale subkomitees dien, sal eers tydens die volgende amptelike raadsvergadering gekies word.

Hoewel die munisipale raad gewoonlik aan die begin van Desember in reses gaan, sal die verkose lede in die eerste week van Desember opleiding ontvang om hul op hoogte te bring van hul pligte en verantwoordelikhede.

Related Articles

Back to top button