MunicipalNews

Wyksraadslid bedank kiesers vir volgehoue ondersteuning

Sarna Groenewald, ’n gebore Waterberger en jarelange inwoner van Modimolle wat sedert 2016 as DA-kandidaat in wyk 12 van die Modimolle-dorspgebied dien, is tydens die afgelope munisipale verkiesing weer verkies as wyksraadslid.

Hierdie wyk is reeds die afgelope 10 jaar onder die Demokratiese Alliansie (DA) se bestuur.

As die enigste DA-kandidaat wat ’n wyk (uit die 14 wyke) van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gewen het, het sy ’n groot verantwoordelikheid om die gemeenskap te verteenwoordig.

Groenewald het tydens ’n onderhoud met Die Pos vertel van die hoogte- en laagtepunte van stemdag wat vanjaar op Maandag 1 November plaasgevind het.

“Om te sien hoe wyk 12 se kiesers in groot getalle opdaag om hul kruisie te trek, was vir my ’n hoogtepunt. Baie mense het twee of drie keer deur die loop van die dag teruggekom in die hoop dat die rye korter is. Almal wou deel wees van die besluitneming in wyk 12, asook in die Modimolle-Mookgophong gemeenskap.”

Volgens haar was die ander hoogtepunt om te sien hoe die ondersteuningspan hul uiterste bes gegee het om al die uitdagings te oorkom.

“Die span het deurgaans gewerk sodat veral ouer kiesers, sommige in rolstoele en looprame, vinnig gehelp kon word. Daar is selfs plastiekstoele by die Koro Creek-gholflandgoed geleen sodat mense nie te lank in die bloedige son moes staan nie. Almal se bereidwilligheid om sonder huiwering in te spring en te help het die dag ’n sukses gemaak,” het sy gesê.

Groenewald vertel dat die probleme met die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se stelsel en databasis die oorsaak van groot frustrasie by sommige kiesers was.

Hierdie kiesers het tydens registrasienaweek hul adresse verander, maar moes op stemdag verneem dat hulle nie in Modimolle kon stem nie omdat hul name nie op die elektroniese kiesersrol is nie.

“Dit was beslis ’n laagtepunt om te sien hoe kiesers onnodig weggewys word weens die OVK se tegniese probleme,” het sy gesê.

Nog ’n laagtepunt was die gesukkel met die OVK se elektroniese skandeerder wat nie doeltreffend gewerk het nie.

“Elke keer wat die elektroniese skandeerder opgehou werk het, het die ry teen ’n slakkepas beweeg sodat sommige mense tot twee ure gewag het om hul kruisie te trek.”

Groenewald vertel dat sy baie geleer het in haar vorige termyn as wyksraadslid.

“Hoewel daar talle uitdagings, frustrasie en opofferings was het ek ongekende persoonlike groei ervaar.”

Tog meen sy dit alles het die betrokkenheid van die gemeenskap versterk.

“Niemand kan op die wal staan en klippe gooi nie — dit help nie. As almal saamwerk om oplossings te vind, kan ons ’n positiewe verskil maak vir die inwoners van wyk 12.”

Groenewald het gesê sy is gereed vir die pad vorentoe.

“Ek is bereid om alles in te sit sodat wyk 12 kan verbeter met behulp van inwoners se volgehoue ondersteuning en samewerking,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het haar gelukwensing uitgespreek teenoor al die kandidate wat verkies is en gesê sy is opgewonde om saam met hulle in diens van die gemeenskap te werk.

Related Articles

Back to top button