MunicipalNews

Tweestryd dreig in Modimolle-Mookgophong munisipaliteit

Inwoners van Modimolle, Mookgophong en Vaalwater is steeds in die duister oor hoe dié munisipaliteit — wat voorheen deur ’n samewerkingsooreenkoms tussen die DA, EFF en Vryheidsfront Plus bestuur is — voortaan gaan funksioneer.

Die amptelike uitslae is op Donderdag 4 November bekend gemaak en volgens wet moet daar binne 14 dae ’n raadsvergadering plaasvind.

Die vergadering wat op Vrydag 12 November in Modimolle sou plaasvind is ter elfder uur met een week uitgestel na Vrydag 19 November. Dit is nou geskeduleer vir 09:00 by die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Lede van die publiek kan hierdie vergadering bywoon.

Op dié vergadering moet die politieke bestuurskomitee, wat bestaan uit die burgemeester, speaker en hoofsweep, aangewys word. Totdat dit gebeur, is die munisipaliteit in die hande van munisipale amptenare.

Die Pos verneem dat dr. Melusi Shepherd Mhlanga, munisipale bestuurder, as voorsitter by die eerste vergadering sal optree.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is die enigste in Limpopo waar die ANC nié die oorgrote meerderheid stemme verwerf het nie, maar tevrede moes wees met slegs die helfte (14) van die setels in die munisipale raad. Dit beteken dat die DA — met sewe setels, EFF met vier setels en die VF-Plus met drie setels — saam oor die ander helfte van die setels beskik.

Dit is dus geen uitgemaakte saak dat hierdie munisipaliteit deur die ANC-party regeer sal word nie. Dit is hier waar dinge interessant raak, want indien die ANC ’n koalisie met die EFF vorm, sal hulle by magte wees om te kies wie die stoel van die burgemeester, speaker en hoofsweep volsit.

Volgens Wiets Botes, wat meer as ’n dekade ervaring in munisipale bestuur het, kan die top-drie poste soos volg verduidelik word: Die burgemeester, as politieke hoof van die munisipaliteit, dien as voorsitter op die bestuurskomitee wat as die “enjinkamer” beskryf kan word.

Dié komitee het ook magte om sommige besluite deur te voer, sonder dat dit deur die munisipale raad goedgekeur hoef te word. Die speaker besluit wat op die agenda verskyn tydens raadsvergaderings en is verantwoordelik vir die bestuur van raadslede.

Die rol van die hoofsweep is om ná kommunikasie met die provinsiale leiers koukusse te reël met sy raadslede en die inligting aan hulle oor te dra.

Koukusvergaderings word ook gereël waartydens besluite bespreek word.

Volgens Marlene van Staden, DA-burgemeester in die vorige termyn (2016-2021) was die EFF-raadslede in beheer van die finansies- en infrastruktuurportefeuljes. Hierdie twee afdelings beheer die meerderheid van die geld wat deur belastingbetalers aan die munisipaliteit betaal word.

Van Staden het op Vrydag 12 November verduidelik dat die EFF-raadslede wat in die vorige termyn gedien het, nie die nodige ervaring gehad het om hierdie portefeuljes te bestuur nie.

Derhalwe is dit tydens bestuurskomiteevergaderings bespreek waarna dit na die munisipale raad verwys is. Johann Abrie, wat kort voor vanjaar se verkiesing uit die politiek getree het, was die afgelope vyf jaar die DA-wyksraadslid van wyk 11 in Modimolle. Hy het op Maandag 8 November te kenne gegee dat regshulp ingewin sal word indien die ANC toegee aan die EFF se eise om die septer in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit te swaai.

“Ons het ’n sterk saak, want ’n party wat slegs vier uit die 28 setels verwerf het, kan nie uitsluitlike beheer uitoefen nie. Dit verteenwoordig nie die gemeenskap se belange nie,” het hy gesê.

Volgens ’n amptelike skrywe wat deur die EFF op Vrydag 5 November bekend gestel is, is daar ’n baie spesifieke sespuntraamwerk vir enige koalisie-onderhandelings.

Daarvolgens eis die EFF die eksklusiewe beheer van die betrokke munisipaliteite, asook geen inmenging met die aanstel van hul gekose munisipale bestuurder en ander topbestuurders nie. Dit beteken dat die EFF ongehinderd toegang sal hê tot alle fondse in die munisipaliteit.

Verdere eise vir dienslewering met betrekking tot kragvoorsiening, water en spoeltoilette, asook die versorging van gestremdes, is na verneem word gestel.

Werkskepping en grondhervorming moet volgens spesifieke tydlyne geskied voordat die EFF enige koalisie ooreenkomste sal sluit.

Desirée van der Walt, DA-parlementslid en provinsiale leier, het bevestig dat hulle besig is met verskeie onderhandelings, maar dat daar geen moontlikheid bestaan vir enige koalisie met die EFF nie.

Intussen sit Waterbergers met ingehoue asems en wag vir die uitslae van die raadsvergadering op Vrydag 19 November.

Related Articles

Back to top button