MunicipalNews

Ywerige kiesers daag vroeg in Mookgophong op om te stem

Stemlokale in Mookgophong was op Maandag 1 November reeds vroeg bedrywig toe geesdriftige kiesers opgedaag het om hul stem uit te bring.

By Laerskool Eugène N. Marais in die dorp het die stemmery sonder groot probleme verloop.

Volgens Hercules Louw, DA-kandidaat vir die wyk, en Marita Louw, VF-Plus-kandidaat, was die grootste probleem dat kiesers wat aanlyn geregistreer het, se adresse nie korrek op die sisteem ingelees is nie. Dit was ook die geval by ander stemlokale in die Mookgophong-omgewing.

In ’n verrassende wending het die VF-Plus (Marita Louw) wyk 5 in Mookgophong by die DA afgeneem, wat dié wyk sedert 2016 gewen het.

Binne die stemlokale het alles glad verloop en kiesers het aan Die Pos gesê dit was die vinnigste stemproses ooit.

“Ek stem vir die eerste keer en is trots om my stem vandag uit te bring,” het ’n meisie, wat anoniem wil bly, met ’n breë glimlag gesê.

“Ons het kom stem omdat ons voel dit is ons plig en ons het sommer vroeg gekom sodat dit afgehandel is,” het Johan Claassens by die stemlokaal gesê.

By die Rietfontein-stemlokaal (wyk 9) buite Die Oog-aftreelandgoed was daar ’n gemoedelike atmosfeer tussen kiesers. Die Oog en omliggende plase is deel van hierdie wyk.

Die tempo het teen laatmiddag effens getaan, maar getalle het weer voor sluitingstyd toegeneem.

Volgens Desiree van der Walt, leier van die DA in Limpopo, was die stempersentasie teen 17:00 maar ’n skrale 24% in die provinsie.

Related Articles

Back to top button