AdvertorialNewsSponsored

Balke toe op Rooiberg!

Die konsertinas het gesing en die voete het behoorlik gejeuk toe ’n groot groep Boeremusiekliefhebbers die afgelope naweek by Rooiberg vir ’n lekker naweek se jolyt uitgespan het.

Wanneer die Waterberg Boeremusiekgilde makietie hou, kan ’n mens maar weet dit gaan groot pret wees. Gaste het sedert Vrydag 22 Oktober van heinde en ver gekom om deel te hê aan die Rooiberg-Ukuthulafees, een van die gewildste Boeremusiek-feeste in die land.

Die meel is al vroeg gestrooi en die dansvloer was stampvol terwyl 15 van Suid-Afrika se beste Boeremusiek-orkeste om die beurt die gehoor vermaak het.

Dié byeenkoms was oudergewoonte ’n fees van kos, kreatiwiteit en polsende kitaar- en konsertinaklanke. Verskeie kunstenaars het hul handewerk tydens die fees uitgestal en verkoop.

Die nuutverkose direksie van die Boeremusiek-gilde is Mara en Allen Green (beskermheer) saam met Deon Jonker (hoof- uitvoerende beampte). Agter hulle staan Patty Jordaan (Waterberg-streekbestuur), Louis Hurter (ere-president), Tommie Bothma (suidstreek lid), Ronelle Jonker (sekretaresse), Nico Rabe (suid-streekdirekteur) en Adriaan Steyn (akoestiese musiekdirekteur).

Die Rooiberg Resort en Waterberg-gilde-tak het die Vrydag gasheer gespeel vir die immergewilde sanger Blackie Swart wat die gehoor van ongeveer 300 besoekers vermaak het.

Die sanger wat bekend geword het met sy Liewe Lulu-liedjie het die verhoog gedeel met die Nel’sons van die Vaaldriehoek wat sedert 2016 gehore vermaak met hul immergroen countrymusiek.

Op Saterdag 23 Oktober was dit die Boeremusiek-gilde se orkeste se beurt en soos gewoonlik het mense van vroegdag al ’n paar draaie op die lekker ritmiese Boeremusiek geneem.

Die Boeremusiek-gilde tref reeds reëlings vir die volgende kuier wat vir 2022 beplan word.

Related Articles

Back to top button