MunicipalNews

Nuwe ANC-bloed dalk nodig om regerende party se meerderheid in Bela-Bela te behou

Die vertroue wat kiesers in die onderskeie politieke partye het sal op Maandag 1 November getoets word wanneer kiesers landwyd stembus toe gaan.

In Bela-Bela is daar ooglopende veranderinge aan die ANC se kandidatelys vir die komende munisipale verkiesing aangebring.

Volgens die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se finale kandidaatslys is daar ses nuwe gesigte op die ANC-lys van voornemende kandidate wat hoop om die meeste stemme in die nege plaaslike wyke te verower en daarna as wyksraads- lede ingehuldig te word.

Hulle is Bianca de Lorra Ferreira Moco (wyk 1), Vision Mashaba (wyk 2), Johannes Mabua (wyk 3), Shadrack Rachidumela (wyk 7), Koos Sepuru (wyk 8) en Mary Koover (wyk 9). Freddy Hlungwane, oud-burgemeester (wyk 4), Jeremia Ngobeni, huidige burgemeester (wyk 6), en Henrietta Ledwaba, hoofsweep van die raad en gewese burgemeester (wyk 5), is reeds sedert 2016 bekende gesigte op dié dorp se ANC-beheerde munisipale raad.

Sewe uit die 10 ANC-proporsionele kandidate is nuwelinge wat hoop om as proporsionele raadslede aangestel te word.

Die sewe sluit in Nelly Zikhali, Andries Lekalakala, Edward Serema, Jane Thema, Lucas Nhlapo, Paulina Kekana en Alfred Makwela. Nhlapo was burgemeester voordat Ngobeni by hom oorgeneem het. Die proporsionele kandidate wat reeds as raadslede gedien het, is Sarah Malete, Gloria Seleka en Spando Maluleka.

Zachariah Moeletsi, huidige speaker en voormalige burgemeester van die dorp, is vanjaar ’n kandidaat vir die Waterberg-distriksmunisipaliteit. Boetie Maname (voormalige wyk-9 raads- lid) en Petrus Aphane (wyk 8-raadslid) het nie vanjaar die ANC-lys van kandidate gehaal nie.

Maname en Aphane was albei by verskeie kontroversiële voorvalle betrokke en het ook met die gereg gebots.

Die hof het egter die kriminele klagtes (onder meer aanklagte van vandalisme en intimidasie) teen hulle teruggetrek, het Matome Moremi Taueatsoala, ANC-streekwoordvoerder, by navraag aan Die Pos gesê. Maname en Aphane is tans as onafhanklike kandidate vir die verkiesing geregistreer.

Op ’n vraag of die ANC bang is dat kiesers van die stembus sal wegbly omdat hulle vertroue in die ANC verloor het, het Taueatsoala gesê ’n groot groep inwoners sal nie ’n kandidaat voorgestel en aangewys het vir die munisipale verkiesing, net om nie op stemdag op te daag om vir daardie persoon te stem nie.

“Die ANC sal elke kandidaat se gedrag ná die verkiesing dophou en hulle aanmoedig om ná die verkiesing steeds nou saam met die kiesers te leef en in hul belang op te tree. Raadslede moet voortdurend in hul gemeenskappe gesien word en moet die behoeftes van die kiesers aanspreek.”

Related Articles

Back to top button