MunicipalNews

Munisipale skuld word dalk al wéér afgeskryf

Die Bela-Bela-munisipaliteit staan weer voor die uitdaging van uitstaande belastinggeld.

Sommige inwoners het agterstallig geraak op hul munisipale rekenings en die munisipaliteit daardeur in skuld gedwing.

Die totale bedrag wat tans aan die munisipaliteit geskuld word, word op R127 622 045,56 geraam. Volgens die munisipaliteit is ’n bedrag van R120 084 569,30 deur die landbousektor verskuldig. ’n Spesiale raadsvergadering is op Donderdag 23 September hieroor gehou.

Die vergadering is as ’n “Round Robin-vergadering” beskou. ’n Round Robin word volgens die tipiese woordeboekbeskrywing as ’n reëling beskryf wat alle aspekte in ’n rasionele volgorde verduidelik — gewoonlik van bo na onder vanaf ’n beskikbare lys.

Die doel van die vergadering was om aan inwoners wat agterstallig geraak het met hul munisipale skuld, verligting te bied deur die slegte skuld volgens ’n bepaalde kriteria af te skryf.

In die Round Robin-verslag, waarvan Die Pos ’n afskrif het, word genoem dat die munisipaliteit vir ’n jaar lank geraamde lesings op munisipale dienste soos water in dele van die Masakhane-nedersetting, die Bela-Bela-township, asook in Pienaarsrivier, geneem het. Die rede hiervoor is weens ’n gebrek aan personeel om die persele te besoek om die werklike lesings van waterverbruik te neem.

Nadat korrekte lesings geneem is, blyk dit egter dat inwoners meer verbruik het as wat die skatting was en die skuld aan die munisipaliteit het derhalwe verhoog.

Van die 5 024 hulpbehoewendes wat in die 2021-2022 boekjaar vir gratis water en krag aansoek gedoen het, het slegs 4275 mense goedkeuring ontvang.

Daar is voorts bevind dat 2 634 huishoudings agterstallige skuld het omdat die inwoners geen inkomste verdien het nie. Dit is verder algemeen bekend dat landelike inwoners uit die bloute rekeninge ontvang het wat “buitensporige belastingbedrae” aandui.

Die munisipaliteit se verskoning hiervoor is dat skuldinvorderaars nie met dié belastingbetalers kontak kon maak nie, omdat die stelsel nie oor opgedateerde kontakbesonderhede beskik nie.

Munisipaliteite moet volgens die munisipale finansiële bestuurswet in hul jaarlikse begroting voorsiening maak daarvoor dat sekere skuld afgeskryf word. Daar moet onteenseglik bewys word dat dit oninbare skuld is.

Die munisipaliteit het tussen Oktober 2020 en Februarie vanjaar ’n soortgelyke vergunning gemaak. Daar is in die verslag versoek dat huishoudings of ondernemings wie se skuld tussen R10 000 en R50 000 beloop, afgeskryf moet word indien die munisipale bestuurder en hoof- finansiëlebeampte dit toestaan.

Die verslag voer verder aan dat die munisipaliteit reeds ’n beleid ingestel het om skuld wat betwyfel word, asook skuld wat onder geen omstandighede verhaal kan word nie, kan skrap.

Tinus Ras, DA-raadslid, het in reaksie gesê die afskryf van skuld kan ’n sinvolle besluit wees, maar hy het nog geen beleid gesien wat hierdie proses moontlik maak nie. Die feit dat die proses as ’n Round Robin beskryf is, is volgens hom uiters vreemd.

“As die beleid om skuld af te skryf wel bestaan, is dit nog nie in die staatskoerant gepubliseer nie. Eers dan kan die proses wettig uitgevoer word,” het hy gesê.

“Die provinsiale tesourie moet in kennis gestel word daarvan dat ’n munisipaliteit hierdie stap wil neem. Ons vermoed dat hierdie vergunning slegs op sekere inwoners gemik is en dit is waarskynlik polities gemotiveerd.”

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Related Articles

Back to top button