MunicipalNews

Grondeienaars woedend oor herklasifikasie landbougrond

’n Groep grondeienaars in die Modimolle-Mookgophong-munisipale distrik is woedend oor die herklassifikasie van hul landbougrond na residensiële grond.

Hierdie herklassifikasie van meer as 300 plase en kleinhoewes, is glo sonder kennisgewing deur die plaaslike owerheid in Desember 2019 geïmplementeer met die berekening van eiendomsbelasting volgens die herklassifikasie.

Daarmee saam is die verhoogde eiendomswaardasies, wat glo tien jaar laas deur die owerheid aangepas is, ook sedert Desember 2019 van krag.

Die Pos het tydens ’n onderhoud met Alan Reid, ’n kleinhoewe-eienaar in die Sussenvale-omgewing, verneem hy is die sameroeper van ’n groep van sowat 80 besorgde grondeienaars verteenwoordig.

Hulle oorweeg ’n regsaskie teen die plaaslike munisipaliteit. Reid beweer dat ongeveer 5 000 plase en kleinhoewes in die Modimolle-Mookgophong-munisipale distrik deur die verhoogde tariewe geraak word.

“Die algemene riglyn vir kleinhoewes om as landbougrond geklassifiseer te word is dat dit meer as 18 ha moet beslaan en géén dienste van die munisipaliteit ontvang nie,” het Reid gesê.

“Ons elektrisiteit kom direk van Eskom af en ons sorg self vir die onderhoud van die paaie, vullisverwydering, water en sanitasie.”

Reid het gesê dié verhoging hou astronomiese gevolge vir individue in.

Volgens Reid het ’n afvaardiging van die plaaslike owerheid, waaronder dr. Melusi Shepherd Mhlanga (munisipale bestuurder), en Marlene van Staden (burgemeester), hom in Januarie 2020 besoek om die saak te bespreek.

Reid sê dat dit tydens hierdie bespreking aan die lig gekom het dat die herklassifikasie glo ’n administratiewe fout was wat reggestel sou word.

“Die munisipaliteit het egter nie die herklassifikasie omgekeer nie en ná talle versoeke en vergaderings beoog ons nou regstappe,” het Reid gesê.

Die groep grondeienaars het regshulp van Gerhardt Breytenbach van Breytenbach Keulder Prokureurs in Modimolle ingewin om skriftelik beswaar te maak by die plaaslike owerheid.

Volgens Breytenbach is daar in die 2019/2020- , asook die 2020/2021-begrotingsproses talle skriftelike besware en voorstelle ingedien wat op dowe ore geval het. Hulle het ook geen skriftelike terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.

Daar is op Maandag 13 September weer skriftelik beswaar by die munisipaliteit ingedien.

Volgens Breytenbach bestaan daar wetlik geen formele eiendomsbelastingsbeleid waarkragtens die munisipaliteit kleinhoewes teen residensiële tariewe kan belas nie en is die herklassifikasie van hierdie eiendomme in die aanvullende waardasierol onregmatig.

“Die wetgewing skryf duidelik voor dat die munisipaliteit die kriteria vir elke eiendomskategorie, waarteen belastings gehef word, in sy beleid moet uiteensit. Die beleid waarop die munisipaliteit steun is nog in geen begrotingsproses wetlik aangeneem nie,” het hy gesê.

Die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit het teen druktyd nog nie skriftelike terugvoer gegee nie, maar daar is na verneem word ’n vergadering met belanghebbende partye belê vir Dinsdag 12 Oktober.

Related Articles

Back to top button