MunicipalNews

Plaaslike onderneming maak munisipaliteit se las ligter

Inwoners van Thabazimbi en Northam het die afgelope paar jaar gewoond geraak aan die onooglike en ongesonde omstandighede by dié dorpe se stortingsterreine.

Dit lyk egter asof daar binnekort ’n oplossing sal wees vir dié voortslepende probleem.

Die Pos het in April berig oor beoogde opknappings by dié stortingsterrein nadat dit aan die lig gekom het dat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) bevestig het dat die toestand van die stortingsterrein ’n uiters negatiewe impak op die omgewing het en ook dreigende gevare inhou vir die gesondheid van die dorp se inwoners.

Pretoria Portland Cement (PPC) in Dwaalboom het intussen, ná verskeie samesprekings met die Thabazimbi-munisipaliteit, besluit om hand by te sit en op Dinsdag 14 September het dié maatskappy ’n stootskraper en vyf groot afvalbakke aan die munisipaliteit oorhandig om hul by te staan met die instandhouding van die stortingsterreine.

Rdl. John Fisher, burgemeester van Thabazimbi, het gesê dié groot skenking is die eerste stap om die stortingsterrein optimaal te bestuur.

Thabazimbi-burgemeester, raadslid John Fisher, het sy dank teenoor die maatskappy uitgespreek en inwoners gerusgestel dat hierdie skenking die eerste stap is tot die rehabilitering en behoorlike bestuur van die stortingsterreine in en om Thabazimbi.

“Dit is geen geheim dat die munisipaliteit ’n tekort aan geld en hulpbronne het om die deeglike instandhouding van ons stortingsterreine te verseker nie,” het hy gesê.

“Dit is egter belangrik om vorentoe te kyk en alles in ons vermoë te doen om die foute uit die verlede te vermy.”

Hy het voorts gesê die onwettige storting van rommel is steeds ’n groot probleem. Die munisipaliteit was in skuld gedompel nadat wanbestuur van die voormalige administrasie die munisipaliteit bankrot gelaat het.

Gevolglik moes die munisipaliteit afstand doen van verskeie bates wat die uitvoer van daaglikse munisipale pligte bykans onmoontlik gemaak het. Die munisipaliteit het daarom besluit om in oorleg op te tree met verskeie sakelui en ander belanghebbendes (waaronder PPC en die myngroepe) om te onderhandel vir hulp en befondsing.

Thane Hearne, speaker van die munisipaliteit, het vroeër vanjaar ook aan Die Pos verduidelik dat stortingsterreine wat reg bestuur word, deurlopend in stand gehou moet word. Dit was egter tot dusver moeilik in Thabazimbi omdat die munisipaliteit nie oor die fondse of toerusting beskik het nie.

“Die munisipaliteit bly in konsultasie met verskeie belanghebbendes om masjienerie op ’n bruikleenbasis of as skenking aan die munisipaliteit te gee.”

Die algemene bestuurder van PPC, Fortune Mashimbye, het op sy beurt verduidelik dat dit belangrik is vir dié maatskappy, en ook vir baie ander maat- skappye in en om Thabazimbi, dat die munisipaliteit ten volle funksioneel is.

“Dit is in almal se belang — sakeondernemings én individue — dat die munisipaliteit optimaal funksioneer omdat dit die vooruitgang van die dorp en die ekonomiese groei kan verseker,” het hy verduidelik.

“Die onderhandelings en uiteindelike vennootskap met die munisipaliteit kom al ’n lang pad en ons is opgewonde om te sien dat dit begin vrugte afwerp,” het Mashimbye gesê.

Related Articles

Back to top button