MunicipalNews

Munisipale verkiesing 2021: Registrasienaweek verloop seepglad in Modimolle

Volgens Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het altesame 1,7 miljoen kiesers tydens die kiesersregistrasienaweek (18-19 September) vir die plaaslike verkiesing, wat op Maandag 1 November plaasvind, geregistreer.

Altesame 204,371 kiesers, sowat 12% van die land se totaal, het in Limpopo by die onderskeie stempunte opgedaag.

Tydens ’n onderhoud met Die Pos het Malome Nkoana, OVK-streekstoesighouer vir die Waterberg-distrik, bevestig dat al 62 stemstasies wat binne die Modimolle-Mookgophong-plaaslike munisipaliteit val, ten volle gefunksioneer het tydens die twee dae.

Volgens Nkoana was daar twee OVK-werkers by elke stasie wat kiesers se inligting op elektroniese toestelle kon inlees en was daar geen onoorkombare tegniese probleme.

Die 14 areabestuurders het deurgaans verseker dat die registrasieproses seepglad verloop. Hy het gesê hoewel die netwerk soms oorlaai was, kon alle kiesers wat opgedaag het, gehelp word.

Altesame 3 877 mense het die afgelope naweek in die Modimolle-Mookgophong- munisipaliteit geregistreer waarvan sowat 29,5% nuwe kiesers is wat vir die eerste keer geregistreer het.

Die meerderheid kiesers, sowat 85%, was ouer as 21 jaar. Dit is in lyn met die provinsie se statistieke.

Bykans die helfte van kiesers moes hul adresse verander omdat hulle voorheen in ander distrikte of provinsies geregistreer was.

Volgens die OVK se amptelike syfers het daar altesame 3 156 kiesers, waarvan 26% nuwe kiesers is, in die Bela-Bela-munisipaliteit geregistreer.

Die Thabazimbi-munisipaliteit het net 21% nuwe kiesers gehad van die altesame 2 615 kiesers wat die naweek daar geregistreer het. In hierdie distrik was 90% van die kiesers ouer as 21 jaar.

Aansoeke om spesiale stemme voor die verkiesing uit te bring, het op Maandag 20 September geopen en sluit op Maandag 4 Oktober om 17:00.

Tydens die verkiesing op Maandag 1 November sal alle stemstasies se deure om 07:00 open tot 21:00 die aand.

Kiesers kan die OVK se webwerf besoek by www.elections.org.za(.)

Related Articles

Back to top button