MunicipalNews

Tekens van Covid-19-virus in lekkende rioolwater gevind

Die rioolbesoedeling wat geruime tyd vir inwoners van Bela-Bela hoofbrekens besorg, het op Vrydag 20 Augustus ’n nuwe vlak van kommer bereik nadat tekens van die Covid-19-virus glo in die lekkende rioolwater gevind is.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), George Baloyi (konsultant), asook Janes Boshoff (AfriForum Bela-Bela), het op Maandag 16 Augustus rioolmonsters op verskeie punte in en om die rioolaanleg geneem.

Die toetsmonsters is volgens hulle na kundiges van die wetenskaplike nywerheids- en navorsingsraad (WNNR) gestuur om vir skadelike organismes in die water te toets.

Die kommer bestaan reeds geruime tyd dat inwoners aan gesondheidsgevare blootgestel word weens die die strome rioolwater in dié omgewing.

Die Pos berig reeds maande lank oor die gebrekkige instandhouding by die rioolaanleg in die dorp wat ook daartoe gelei het dat rioolwater tot teenaan die R101-pad vloei.

Verskeie pompstasies in die woonbuurte is ook onklaar.

Luidens die verslag van die WNNR, waarvan Die Pos ’n afskrif het, is tekens van die SARS-CoV-2 RNA-virus in die rioolwater aangetref.

Die WNNR se verslag dui daarop dat die aansteeklike Covid-19-variante in rioolwater nie mense sal aansteek indien dit deur die korrekte behandelingsproses in die rioolaanleg onderwerp word nie.

Die verslag dui verder daarop dat dit wel moontlik is dat mense die SARS-CoV-2-virus by die aanleg kan opdoen waar die rioolwater nog nie gesuiwer is nie.

Die suiweringsproses van rioolwater word dus as uiters belangrik beskou. Die BBTF betwyfel egter of die dorp se rioolwater korrek behandel word.

Die verslag is aan die munisipale bestuur vir kommentaar gestuur, het Mills gesê.

Mills het gesê die BBTF beoog om kriminele klagte by die polisie in te dien oor besoedelingsvlakke van die dorp.

Die Pos het die Bela-Bela-munisipaliteit om kommentaar genader, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Related Articles

Back to top button