MunicipalNews

Sug van verligting ná herstel van toegangspad

Die toegangspad na die Modimolle-nywerheidsgebied is uiteindelik — ná meer as sewe jaar se opdraande stryd — met plaveiselstene herstel en op Dinsdag 24 Augustus amptelik deur die plaaslike owerheid geopen.

Verskeie belanghebbendes het tydens die kort seremonie hul dankbaarheid uitgespreek oor die voltooiing van die projek.

Dr. Shepherd Melusi Mhlanga, munisipale bestuurder van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het vertel hoe hy elke dag besoek afgelê het om die werkers se vordering te moniteer. Hy was glo talle oggende reeds om 07:00 op die perseel om seker te maak die werkers is al vroegdag op hul pos.

Mhlanga het gesê die munisipaliteit beoog om eerder hul eie werkers te gebruik vir toekomstige projekte pleks daarvan om kontrakteurs aan te stel.

Marlene van Staden, burgemeester, het die span werkers geprys vir hul deursettingsvermoë om fase een van die projek te voltooi. Sy het benadruk hoe belangrik dit vir die regering en plaaslike owerhede is om ’n gunstige omgewing te skep sodat sakelui die geleenthede kry om suksesvol sake te doen en uit te brei. Sy het namens die munisipaliteit om verskoning gevra vir die uitge- rekte proses. Sy het voort gesê munisipale werkers is tans besig om al die straatligte in die nywerheidsgebied te herstel.

Van Staden het ook twee sakeondernemings, Pavecon en Waterberg Toyota, uitgesonder vir hul deurlopende ondersteuning en finansiële bydrae om die projek suksesvol af te handel.

Die herstel van die paaie in die nywerheidsgebied is die afgelope sewe jaar gereeld onder die plaaslike owerheid se aandag gebring.

Volgens Eunice Ramuthivheli, bestuurder van paaie en stormwater, het fase een van die projek na raming R1,6 miljoen beloop. Die onderskeie systrate sal op ’n latere stadium ook met plaveiselstene herbou word en so ook die pad voor die graansilo’s wat die meeste verkeer van swaarvoertuie dra.

Sy het tydens die opening gesê sy is baie trots op haar span se vaardighede omdat hulle elke faset van die projek sonder die hulp van kontrakteurs kon voltooi. Sy het gesê die paaie-afdeling sal deurgaans die onderhoud van hierdie goeie gehalte handhaaf.

Hulle onderneem om tydens die reënseisoen bedag te wees op moontlike skade en onderneem om dit vinnig te herstel.

Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon, wat al die plaveiselstene vir die projek verskaf het, het aan Die Pos gesê sake-eienaars in die nywerheidsgebied is opreg dankbaar oor die voltooiing van die toegangspad.

“Hierdie pad is die lewensaar wat sal sorg vir ’n ekonomiese inspuiting in Modimolle,” het hy gesê.

Volgens hom het die aantal sakeondernemings in die nywerheidsgebied die afgelope tyd met ongeveer 30% afgeneem weens die toenemende swak toestand van die paaie.

“Heelwat verskaffers en kliënte kon eenvoudig nie meer by die sakeondernemings uitkom nie, want die paaie was onbegaanbaar,” het hy gesê.

Daar is nog nie duidelikheid oor wanneer die systrate en pad voor die graansilo’s herstel sal word nie.

Related Articles

Back to top button