AdvertorialNews

By Hunky Dory word vriendskapsbande gesmee

“Lig jou ken en kén jou Lig,” is volgens Ursula van Staden, eienaar van die Hunky Dory-koffie- en geskenkwinkel in Modimolle, die beste manier hoe mense die Covid-19-pandemie se eise moet hanteer.

Van Staden het tydens ’n onderhoud aan Die Pos vertel die vreesaanjaende chaos van 2020 was soms oorweldigend.

“Ek het besef ek moet stil raak en bid vir wysheid van Bo om hierdie storm te oorleef vir die behoud van myself, my gesin en my sakeonderneming.”

Daarmee saam moes sy weens die inperking nuwe planne beraam om die winkel te bemark en kliënte te bereik.

“Ek het weer geleer om na my kliënte se behoeftes te luister en bykomende moeite te doen om produkte wat hulle wil hê, in die hande te kry. Die ondersteuning van die gemeenskap, getroue kliënte en vriendinne het my staande gehou. Selfs al kon hulle nie iets koop nie, het die vinnige inloer en bemoedigende woorde die wêreld vir my beteken.”

Een van haar groot drome het in Februarie vanjaar waar geword toe daar ’n nuwe afdeling vir geestelike leesstof in die winkel geskep is.

Van Staden sê dit voel vir haar asof mense deesdae ’n groter behoefte na geestelike pitkos het.

“Ek leef daagliks my geloof uit en sien hierdie as deel van my bediening,” het sy gesê.

Van Staden vertel haar man, Hammies van Staden, het die winkel vyf jaar gelede vir haar gekoop.

Daar was destyds ’n vroueskoene-afdeling, gesondheidsprodukte en oudhede op die rakke. Die koffiewinkel was piepklein en het slegs koffie, tee en toebroodjies bedien.

Oor die jare het die koffiewinkel egter heelwat uitgebrei en deesdae is hulle bekend vir die heerlike soetgebak en geurige ligte etes wat alles vars uit hul eie kombuis kom.

Die unieke reeks kunstige vroueklere, wat in die Kaap handgemaak word, is ook bygevoeg en allerlei dekoritems en spesiale handgemaakte geskenke stel kliënte in staat om te kies en te keur.

Sy en twee getroue werknemers beman die kombuis en winkel. Die impak van Covid-19-regulasies, asook die algemene ekonomiese omstandighede van die land, het elke aspek van haar sakeonderneming geraak en hulle moes telkens nuwe aanpassings maak om kop bo water te hou.

Sy vertel dat haar geloof in hierdie tyd versterk is.

“Ek glo in die beloftes in die Woord dat God ons nooit sal laat los nie en dat Hy altyd in ons behoeftes sal voorsien,” het sy gesê.

Daarby het sy ook gekies om daagliks op positiewe gedagtes te fokus en die negatiewe emosies wat soms met ’n mens weghol, hok te slaan.

By Hunky Dory is niemand “net nog ’n kliënt nie”. Hier word vriendskapsbande met bemoedigende woorde en boeretroos gesmee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button