AdvertorialNews

Plaasjapies dans die winterkoue weg

Wanneer die winterkoue begin byt, is daar baie maniere om van die koue te ontsnap — ’n lekker glasie rooiwyn voor die kaggel, knus onder die verekombers met ’n koppie sop in die hand of, as mens in Thabazimbi bly, ’n lekker aand se voete kielie op die dansvloer by een van die dorp se gunstelingkuierplekke.

Ná ’n suksesvolle openingsaand saam met die Radio Kalahari-orkes, was die eienaars en besoekers van Die Plaasjapie, familierestaurant en kroeg, baie opgewonde om op Saterdag 31 Julie gasheer te speel vir die gewilde sanggroep Saarkie.

Die makietie is aanvanklik vir vroeër beoog, maar dit moes uitgestel word nadat inperkingsmaatreëls strenger gemaak is.

In egte Thaba-styl het dit nie die inwoners se geesdrif geblus nie.

Kuierplekke en restaurante kon intussen weer hul deure oopmaak nadat die Covid-19-regulasies verslap is en Thabazimbi se mense het nie op hulle laat wag nie en opgewonde saamgekom by die Plaasjapie vir die langverwagte besoek van Saarkie.

Die gewilde SAMA-bekroonde trio het oor die jare bekend geraak vir treffers soos Ai My Lam (oorspronklik deur Ryno Velvet), Waar lê jou hart en verskeie ander gewilde liedjies soos Jak de Priester se immergroen Sally Williams Nougat.

Saarkie het in 2018 hul eerste Ghoema-toekenning vir die beste rock-album ingepalm en daarna het dié groep vroue die wêreld verower met verskeie nasionale en internasionale toere.

Sedertdien is hulle ’n bekende naam in Afrikaanse musiekkringe. Hulle het die besoekers van die eerste noot af bekoor en sonder verrassing of uitsondering was almal by Die Plaasjapie op hul voete.

Related Articles

Back to top button