MunicipalNews

Bela-Bela se geldsake raak inwoners se sakke

Munisipaliteite se jongste ouditeurgeneraalverslae skilder glad nie ’n rooskleurige prentjie vir belastingbetalers nie.

Katsani Maluleke, ouditeurgeneraal (OG), se raad aan munisipaliteite is eenvoudig: Stel voorkomende maatreëls in om verdere verliese te verhoed, moniteer amptenare beter en neem tugstappe indien nodig, pas strenger maatreëls toe en hersien besluite meer gereeld.

Die Capricorn-munisipaliteit is die enigste van die 22 munisipaliteite in Limpopo wat ’n skoon ouditverslag vir die 2019/2020-boekjaar ontvang het.

Die OG het in sy verslag gesê die Covid-19-pandemie het daartoe bygedra dat munisipaliteite agteruit boer.

Die redes vir die agteruitgang word toegeskryf aan belastingbetalers wat nie vir munisipale dienste betaal nie, munisipaliteite wat steeds swak begrotingspraktyke het en ondoeltreffende finansiële bestuur deur amptenare.

Dit het tot gevolg dat munisipaliteite nie genoeg inkomste ontvang om hul uitgawes te dek nie en in die proses die slagoffers word van rentes en boetes wat deur diensverskaffers soos Eskom en Magalies Water ingestel word.

Kapitale projekfondse wat dienslewering behoort te verbeter word ook nie volgens die begroting bestee nie en veroorsaak dat dienslewering versleg, het die OG bevind.

Die OG het kommer oor Vhembe, Thabazimbi en Musina uitgelig en gesê hierdie munisipaliteite het nie die vermoë om hul skuldlas, wat tans meer as hul inkomste beloop, ten volle te dek nie. Die toedrag van sake in Bela-Bela word as “ongunstig” beskou.

Die OG het daarop gewys dat die munisipaliteit in die vorige boekjaar uitgawes van onderskeidelik R30 miljoen (ongemagtig), R48,8 miljoen (onreëlmatig) en R5,3 miljoen (vrugtelose uitgawes) aangegaan het. Dit is die vierde agtereenvolgende jaar dat Bela-Bela ’n gekwalifiseerde ouditverslag met bevindinge ontvang.

Bela-Bela is egter steeds in ’n beter posisie as die Mogalakwena-, Fetakgomo Tubatse- en die Elias Motsoaledi-munisipaliteite. Dié drie munisipaliteite het nadelige ouditmenings ontvang en staan gebuk onder ’n skuldlas van tussen R80 en R400 miljoen weens onreëlmatige uitgawes en swak bestuur, het die OG bevind.

Die OG het in sy verslag bevind dat amptenare en top bestuurslui van Bela-Bela oor die nodige vaardighede beskik om hul pligte uit te voer.

Dit is ook noemenswaardig dat die munisipaliteit dissiplinêr optree wanneer oortredings of swak bestuur aan die lig kom.

Die Pos het verneem dat die munisipale bestuurder tydens raadsvergaderings aan konsultante opdrag gegee het om die oorsaak van die swak finansiële stand van sake by die munisipaliteit te bepaal.

Johan Mills, Bela-Bela belastingbetalersforum-voorsitter (BBTF), het in reaksie gesê die jongste ouditverslag het nie vir inwoners as ’n skok gekom nie.

“Amptenare kom elke jaar met die een na die ander slinkse plan vorendag om meer en meer uit belastingbetalers te mergel. Die herstel van die rioolplaas is ’n klassieke voorbeeld van hul argelose houding jeens inwoners,” het hy gesê.

“Die kapitale projekte wat net oorgedra word, asook projekte waarvoor uit munisipale fondse begroot word en dan nie voltooi word nie, is vir belastingbetalers ’n groot bron van kommer. Sekere amptenare is te bang dat eerlike kontrakteurs hul kollegas se plek op die soustrein sal inneem en daarom kan ons weer aanstaande jaar met onverwerkte riool sit.”

Hy het gesê die vereniging werp nou alles in die styrd om kriminele klagtes teen individue in te dien weens die rioolbesoedeling in die dorp.

Related Articles

Back to top button