MunicipalNews

Haglike toestand in straat voor landdroskantoor

Die rommelhoop langs die sypaadjie in Dr. JS Marogastraat, wat voor die Modimolle-landdroskantoor verbyloop en teen die posbusse doodloop, het ’n groot seeroog vir inwoners geword.

Volgens inwoners wat gereeld daar verbystap, hoop papiere, wegneemetes se verpakking, kosreste en ander gemors reeds die afgelope maand daar op.

Mense gebruik die plek as openbare toilet en dit is ook besaai met kondome. Dít terwyl daar munisipale badkamers reg langs die rommelhoop is wat glo permanent gesluit is.

Die enigste ander openbare toiletgeriewe is by die taxistaanplek in Joe Slovostraat.

Die Pos het navrae aan die plaaslike munisipaliteit gerig oor waarom dié badkamers nie tot die publiek se beskikking is nie. Volgens Patrick Shika, munisipale woordvoerder, is die badkamers ’n jaar gelede gesluit nadat vandale dit erg beskadig het. Hy kon nie sê wanneer dit weer geopen sal word nie.

Duisende mense drom maandeliks ure lank in die omgewing van die poskantoor saam om hul toelaes van die South African Social Security Agency (Sassa) te ontvang.

Die gebrek aan openbare toilette is dus ’n wesenlike probleem. Volgens Shika onderneem die munisipaliteit om weer met die poskantoor en Sassa te onderhandel om intussen mobiele toilette tydens betaaldae op te rig totdat die kwessie opgelos is.

Shika kon nie verduidelik waarom die vullis nie gereeld daar verwyder word nie.

Volgens hom is daar permanente skoonmakers op ’n rotasieskedule wat verantwoordelik is vir die skoonmaak van strate en sypaadjies. Dit beteken dat hierdie plek minstens een keer per week skoongemaak moet word.

Die Pos het op Maandag 2 Augustus foto’s van die haglike toestand van die straat geneem en vir Shika, asook Marlene van Staden, burgemeester, gestuur. Dit het vrugte afgewerp en munisipale skoonmakers is op Dinsdag 3 Augustus aangesê om daar skoon te maak. Hoewel alles nog nie opgeruim is nie, lyk dit nou aansienlik beter.

Volgens inwoners word die rommelprobleem hoofsaaklik toegeskryf aan sluipslapers en vragmotorbestuurders wat langs die hoofstraat oornag.

Prostitusie en ander onwettige bedrywighede lok vermoedelik ook snags mense na dié deel van die dorp.

Sakelui en inwoners versoek die polisie om gereeld patrollies te ry om misdadige bedrywighede in die omgewing vas te vat.

Related Articles

Back to top button