MunicipalNews

Waterberg Sakekamer soek antwoorde rakende begroting

Die Waterberg-sakekamer in Modimolle het einde April amptelik beswaar aangeteken teen die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (MMLM) se konsepbegroting vir die 2021/2022-boekjaar.

Intussen het die MMLM ’n skrywe aan die sakekamer gerig waarop die sakekamer gereageer het met ’n amptelike skrywe aan die munisipale bestuurder en burgemeester waarin hulle antwoorde verlang.

Volgens Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, het die MMLM se vorige brief onvoldoende terugvoer oor die verhoging van eiendomsbelasting, asook die verhoging van elektrisiteitstariewe, bevat.

Marlene van Staden, burgemeester, het tydens die sakekamer se maandelikse vergadering op Donderdag 20 Mei bevestig dat tariewe vir die nuwe boekjaar met 4,5% sal verhoog en dat sakeondernemings steeds korting sal ontvang vir enige verbeterings wat aan infrastruktuur aangebring word.

Volgens Botes is die werklike verhoging op tariewe eintlik 6% . Hy verduidelik dat die MMLM in die vorige boekjaar eiendomme herwaardeer het wat gelei het tot ’n drastiese verhoging in eiendomsbelasting.

Sommige huishoudings wat voorheen ongeveer R350 betaal het moet nou ongeveer R850 vir hul maandelikse eiendomsbelasting opdok. Dit is veral pensioentrekkers wat die swaarste hierdeur getref word, het hy aan Die Pos gesê.

Volgens die sakekamer hou die voorgestelde elektrisiteitstariewe op die Time Of Use (TOU) -struktuur ’n verhoging van bykans 80% in vir ondernemings wat noodwendig die meeste eletrisiteit tydens piektye gebruik.

Daar word beweer dat die implementering van die TOU-tariefstruktuur ernstige nadelige ekonomiese gevolge vir sakelui en inwoners sal inhou.

Volgens Botes is dit ooglopend dat die tradisionele belastingbasis geteiken word deur middel van verhoogde eiendomsbelasting en elektrisiteit heffings.

“Dit terwyl die basiese infrastruktuur van al die dorpe wat onder die Modimolle-Mookgopong munisiplaiteit val, jaarliks versleg,” het hy gesê.

Van Staden het in reaksie aan Die Pos gesê die TOU-tariefstruktuur is sedert 2008 deel van die nasionale energiereguleerder (Nersa) se amptelike beleid. Volgens Van Staden word die munisipaliteit se elektrisiteitsgebruik daarvolgens deur Eskom bereken.

“Die munisipaliteit betaal dus ’n hoër tarief tydens spitstyd, maar kan slegs die vaste tarief vir verbruikers hef,” het sy gesê.

Dit lei tot groot verliese vir die munisipaliteit, veral tydens die wintermaande. Van Staden het bevestig dat die munisipaliteit nie vanjaar die TOU-tariefstruktuur kan implementeer nie omdat Nersa slegs die nasionale standaard tariefverhoging van 14,59 %, goedgekeur het.

“Die munisipaliteit gaan steeds voort met die hofsaak wat vroeër vanjaar teen Nersa aanhangig gemaak is oor die implementering van die TOU-tariefstruktuur. Hopelik kan dit betyds goedgekeur word vir die 2022/2023-boekjaar waarna dit in fases geïmplementeer sal word,” het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button