MunicipalNews

Staan die brandweerwaens nog steeds en verwaarloos?

Inwoners van Thabazimbi was vroeër vanjaar baie hoopvol oor beoogde nuwe brandweerwaens vir dié dorp, maar die blinknuwe waens is steeds nie “op die pad” nie.

Daar is in April vanjaar wyd op sosiale media beweer dat daar geen werkende brandweerwaens in Thabazimbi is nie en Die Pos het gaan ondersoek instel.

Thabo Mataboge, verteenwoordiger van die Waterberg Distriksmunisipaliteit (WDM), was geskok oor die aantygings en het in April aan Die Pos gesê die gerugte is ongegrond. Hy het inwoners gerus stel dat die dorp se brandweerafdeling wel operasioneel is.

Mataboge het op daardie stadium gesê daar is drie werkende voertuie wat daagliks gereed staan om op noodsituasies te reageer.

Die WDM het in dié tyd ook samesprekings met verskeie rolspelers gevoer om nie net nuwe brandweerwaens vir die dorp te kry nie, maar ook ’n geskikte perseel waar dié voertuie gestoor kan word sodat dit nie aan slegte weersomstandighede blootgestel is nie.

Volgens Mataboge het hulle onderhandelings gevoer met Arcelor Mital-myn om op hul terrein ’n geskikte ruimte te bekom waar die voertuie veilig gestoor kan word.

Die brandweerwanes staan egter steeds by die perseel agter die toetsgronde en inwoners begin wonder of die samesprekings nie maar net nog leë beloftes was nie. Daar is ook geen sprake van nuwe brandweervoertuie nie.

“Het ek iets misgeloop?” het ’n inwoner, wat graag anoniem wou bly die afgelope week op sosiale media gevra.

“Daar is al maande gelede gesê dat ons nuwe brandweerwaens in die dorp gaan kry, maar ek het tot my skok agtergekom dat die ou waens nog steeds op die ou plek staan en verwaarloos,” het die inwoner geskryf.

Mataboge het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê hoewel die brandweervoertuie nog nie verskuif is na die nuwe perseel nie, word daar steeds deeglik omgesien na die beskerming en instandhouding van alle brandweertoerusting.

“Ons is nog besig met die onderhandelings. Ons besef dat dit langer neem as wat aanvanklik beplan is, maar intussen wil ons inwoners gerusstel dat ons steeds daagliks gereed is om ’n diens aan die gemeenskap te lewer,” het hy verduidelik.

Inwoners kan die Thabazimbi-brandweer se noodlyn skakel by tel. 082 551 4204 indien ’n noodsituasie ontstaan.

Related Articles

Back to top button