MunicipalNews

Munisipaliteit ten gunste van botaniese tuin

Die droom om ’n botaniese tuin in Bela-Bela te vestig het op Donderdag 10 Junie ’n hupstoot gekry toe amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit dié konsep verwelkom het.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), en Christopher Willis van die Suid-Afrikaanse nasionale botaniese instituut (Sanbi) het hul konsepplan vir die botaniese tuin aan lede van die uitvoerende raad en topamptenare voorgelê.

Meer as 3000 mense het in 2020 ’n petisie onderteken dat hulle ten gunste is vir die totstandkoming van dié tuin. Die idee het aanvanklik tydens ’n vergadering deur lede van die Wyk 1-wykskomitee ontstaan.

Amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit het verlede week die idee van ’n botaniese tuin in Bela-Bela verwelkom. Op die foto links is die beoogde ligging van die tuin. Johan Mills (inlasfoto), voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), is een van die groot dryfvere agter die projek.

Die beoogde gebied vir die botaniese tuin is op Gedeelte 25 op die Alma-pad net buite die dorp. Aan die suidekant grens die gebied aan die dorp se reservoirs en aan die Renaissance-aftreeoord. Die gebied beslaan ongeveer 40 ha en behoort aan die plaaslike munisipaliteit.

Die tweede opsie wat Mills aan amptenare voorgelê het, grens aan die Marulani-natuurreservaat, ook op die Alma-pad en beslaan ongeveer 90 ha. Dié grond behoort ook aan die munisipaliteit. Dié gedeelte word reeds as natuurreservaat bedryf en daarom is die fauna en flora op hierdie gebied beter bewaar.

Mills en Willis het die voordele van ’n botaniese tuin aan amptenare voorgelê en beklemtoon dat hierdie projek belangstelling in bewaring en werkskepping kan bevorder.

Toerisme in die omgewing kan ook daardeur baat. Willis het gesê die waarde van eiendomme in die omgewing kan voorts verbeter. Die opvoedkundige waarde van ’n botaniese tuin is onskatbaar.

Mills het voorts gesê ’n botaniese tuin kan vir die munisipaliteit ’n bate wees en selfs bydra tot die raad se inkomste. Die verwagting is dat die raad ’n komitee sal saamstel om die totstandkoming van die botaniese tuin te bestuur.

Befondsing vir die projek berus tans nog op skenkings en moontlike ledegeld. Sodra die tuin gevestig is, sal toegangsfooie gehef word.

Mills en die botaniese tuinloodskomitee beskou dit as ’n gemeenskapsprojek. Die aanvanklike koste om die tuin te vestig word op ongeveer R1,7 miljoen bereken. Willis beveel aan dat die loodskomitee amptenare van die munisipaliteit en lede van die gemeenskap moet insluit.

Hy het gesê Sanbi kan slegs as konsultant betrek word by die projek omdat hulle nie beskik oor fondse om ’n geldelike bydrae te lewer nie.

“Al wat ons vra, is goedkeuring om die grond tot die gemeenskap se voordeel te ontwikkel en dat die grond hersoneer word,” het Mills aan amptenare gesê.

Amptenare het verskeie navrae oor die projek gehad en onder meer gevra of die grond van die munisipaliteit gehuur sal word.

Hulle het ook navrae gehad oor basiese dienste wat gelewer moet word. Die versoek is ook gerig dat plaaslike inwoners die botaniese tuin gratis of teen ’n verlaagde tarief mag besoek.

Jeremia Ngobeni, burgemeester, het die plaaslike vliegveld as voorbeeld van ’n soortelyke projek voorgehou. Die vliegveld is wel die eiendom van die munisipaliteit, maar word deur die Valke-vliegklub onderhou en suksesvol bestuur.

Hy het gesê die botaniese tuin kan op ’n soortgelyke beginsel bestuur word. Amptenare was positief oor die projek en het gesê die aansoek sal na die raad verwys word wat die nodige toestemming moet verleen om met die projek voort te gaan.

Lede van die munisipale uitvoerende komitee, Tinus Ras, Ngobeni, asook Spando Maluleka, het by navraag gesê hulle meen die botaniese tuin hou groot voordele vir die dorp in.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button