MunicipalNews

Munisipaliteit soek antwoorde

Die Thabazimbi-munisipaliteit het die afgelope week saam met afgevaardigdes van die parlement besoek afgelê by die Regorogile-reservoir om ondersoek in te stel oor die deurlopende waterprobleme in Thabazimbi en omliggende omgewing.

Volgens Leon Basson, skaduminister van water en sanitasie van die Demokratiese Alliansie (DA), is dit hulle doel om in samewerking met die munisipaliteit ’n oplossing te soek om die huidige water- en sanitasieprobleem in die dorp hok te slaan.

Volgens Basson lê die probleem by die bestuur van water en riool in die dorp.

“Ons het tans nie bevoegde personeellede om die aanleg optimaal te laat funksioneer nie. Hulle beskik ook nie oor bestuursvaardighede nie,” het hy gesê. “Die rioolplaas is ’n paar jaar gelede opgegradeer, maar dit funksioneer steeds nie optimaal nie omdat die personeel nie oor die nodige kennis beskik om die aanleg te bestuur nie. Dit is om hierdie rede dat ons op Dinsdag 1 Junie met amptenare van Magalies Water gekonsulteer het om te bepaal of hulle bystand of die nodige opleiding aan die amptenare kan bied.”

Die nuutgeboude reservoir in Regorogile funksioneer tans ook nie 100% nie aangesien lekkasies veroorsaak dat dié reservoir net tot 70% kapasiteit gevul kan word.

Volgens Thane Hearne, speaker, is Anglo American Platinum (AAP), wat tans nog in beheer is van die bestuur en onderhoud van dié reservoir, bewus van die probleme wat daar by die reservoir is.

“Dit is AAP se verantwoordelikheid om toe te sien dat die nodige herstelwerk plaasvind en dat die reservoir optimaal funksioneer. Eers nadat die nodige herstelwerk gedoen is en AAP tevrede is met die stand van sake sal die reservoir aan die munisipaliteit oorgedra word,” het sy verduidelik.

Basson het tydens hul besoek aan Die Pos verduidelik dat daar nog baie uitdagings is wat die munisipaliteit in die gesig staar.

“’n Tekort aan hulpbronne is ’n groot probleem en ons is reeds in samesprekings met die departement van water en sanitasie om moontlik befondsing te verkry. Dit sal help om eerstens die huidige skuld te delg en tweedens te verseker dat ons die nodige hulpbronne kry.”

Die uiteindelike doel hiervan is om te sorg dat die water- en rioolaanlegte in die dorp só bestuur word dat dié aanlegte skoon water kan terugvoer wat reeds deur die aanleg gesuiwer is.

Kontrakteurs van M-Civils is sedert September 2020 druk besig met opknappingswerk aan die interne pypleidingstelsel in die dorp.

Die werk is in April vanjaar afgehandel. Watervoorsiening bly ten spyte hiervan ’n voortdurende uitdaging aangesien die waternetwerk in die dorp glo verouderd is en volgens Hearne gedurig wateronderbrekings tot gevolg het.

“Daar is tans sewe reservoirs, insluitend die nuwe Regorogile-reservoir, wat nog deur AAP bestuur word en een bufferreservoir by die pompstasie,” het sy gesê.

“As alles volgens plan verloop, is ons veronderstel om daagliks 11 miljoen liter water vanaf Magalies Water en die boorgate in die omliggende omgewing te ontvang.”

Hearne het voorts gesê die huidige aanvraag na water is min of meer 15 miljoen liter water per dag wat, saam met die verouderde infrastruktuur en verskeie lekkasies, bydraende faktore is tot die ondervoorsiening van water.

“Die beskikbaarstelling van fondse soos dié van die Water Sanitation Infrastructure Grant (WSIF) is belangrik en baie nodig om verdere projekte by die wateraanleg aan te pak,” het Hearne gesê.

Sy maan inwoners van Thabazimbi om steeds water spaarsaam te gebruik en sodoende die munisipaliteit by te staan in hul taak.

Sy het gesê verhoogde druk in die pype veroorsaak dat ou pype bars. Dit word deur die tegniese span herstel.

Inwoners sal soms opmerk dat brandkrane oop is, wat beteken dat die tegniese span besig is met instandhouding of herstelwerk aan ’n spesifieke lyn en dan die druk moet reguleer.”

Skakel die munisipale noodlyn by tel. 083 703 2805 om lekplekke of ander waterprobleme aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button