MunicipalNews

Bergsig-inwoners op oorlogspad oor riool

Die Bela-Bela-munisipaliteit is weer in die sop weens hul duidelike onvermoë om rioolprobleme in die dorp te hanteer.

Inwoners van die Bergsig-omgewing in Flamboyantstraat is op die oorlogspad nadat die rioolpompstasie op die hoek van Flamboyantstraat en die Bospoort-omgewing wéér onklaar geraak het en rou riool die afgelope week voor inwoners se deure verbygevloei het.

Die pompstasie gee reeds die afgelope vyf jaar probleme en word gereeld aangemeld. Die stank in die omgewing is ondraaglik en riool vloei tot in die vleiland wat aan Bospoort grens.

Inwoners het nou ’n klagskrif saamgestel wat aan die nuwe munisipale bestuurder gerig is. Hierin herhaal hulle hul eis dat die munisipaliteit die pompstasie dadelik volkome moet herstel en nie net, soos talle kere in die verlede, tydelike maatreëls tref nie.

Inwoners het benadruk dat die riool skadelik vir mense se gesondheid is. Die groep het hul dank teenoor Jimmy Moloto, hoof van water en sanitasie by die munisipaliteit, uitgespreek en gesê hy is altyd hulpvaardig en stuur tegnici uit.

Die probleem is egter dat die tegnici nie die nodige toerusting en pompe het om die pompstasie op te gradeer nie, sê inwoners.

Moloto is tydens ’n onlangse openbare vergadering by die munisipaliteit uitgevra oor die herstelwerk, maar kon nie ’n klinkklare antwoord oor ’n moontlike permanente oplossing vir die probleem verskaf nie.

Die munisipaliteit is tans besig met die opgradering van die rioolpyplyn vanaf Forever Resorts Warmbaths na die dorp se rioolaanleg.

Daar word ook dringende instandhouding by die aanleg gedoen. Moloto het gesê daar sal eers in die nuwe boekjaar (wat in Julie begin) aandag geskenk kan word aan planne om die vervalle munisipale rioolaanleg langs die R101-pad naby die Bela Mall op te gradeer.

Tinus Ras, DA-raadslid, het in reaksie gesê die munisipaliteit se wanbesteding van fondse vertraag broodnodige herstelwerk, soos dié aan die pompstasie by Bergsig.

Die begrote geld word op ander bedryfsuitgawes bestee en die instandhouding van infrastruktuur waarvoor dit geoormerk is, bly agterweë, het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button