MunicipalNews

Opgradering aan substasie sloer al langer as drie jaar

Die langverwagte substasie wat op die R516-pad buite Bela-Bela in aanbou is, dreig om dié dorp se munisipaliteit in ’n verdere finansiële verknorsing te dwing.

Die projek, wat in 2017 begin is, sou die dorp se kragkapasiteit vermeerder.

Die munisipaliteit en Eskom is die primêre kragverskaffers in die omgewing.

Luidens munisipale dokumente, waarvan Die Pos afskrifte het, is daar geen verdere kapitale fondse vir die komende boekjaar bewillig om die kragstasie te voltooi nie.

Die dorp se kragverbruik skiet sommige maande die hoogte in waarna Eskom ’n boete hef. Tinus Ras, DA-raadslid, het aan Die Pos gesê dit beteken dat die munisipaliteit dan meer moet betaal vir dié ekstra eenhede krag.

Hy het voorts gesê gegewe die huidige kragverbruik van inwoners en die tempo waarteen die plaaslike bevolking groei, sal die aanvraag na krag bly styg.

’n Regeringstoelae van R40 580 000 is destyds deur die geïntegreerde nasionale kragontwikkelingsprogram (INEP) vir die nuwe substasieprojek bewillig, lui die dokument. Daarvolgens is daar tydens ’n munisipale raadsvergadering, wat reeds voor die nasionale inperkingstyd in 2020 gehou is, gesê dat die projek nie binne die beoogde drie jaar tydperk voltooi sou word nie.

Die redes wat daarvoor aangvoer is, was swak vakmanskap en kontantvloeiprobleme aan die kontrakteur se kant.

Die Pos het betroubaar verneem dat die huidige kontrakteur intussen versoek het dat die oorblywende deel van die projek na ’n ander kontrakteur oorgedra moet word.

Die munisipaliteit het in hul begroting vir die 2021/2022-boekjaar aangedui dat hulle R16 901 694,34 uit hul eie fondse sal aanwend om die projek te voltooi.

Dit is nie ’n kapitaalfondsprojek nie, maar sal uit die bedryfsrekening verhaal word. Volgens Ras het die munisipaliteit in die verlede kapitale fondse wat vir dié projek toegewys is, aangewend om hul bedryfsuitgawes te dek en daarom moet die munisipaliteit (en dus by implikasie die belastingbetalers) nou vir die projek opdok.

“Dit is onwettig om kapitale fondse op bedryfuitgawes te bestee. Volgens die munisipale finansiële bestuursbeleid is die enigste uitsondering as die geleende geld, met toestemming, binne ses maande terugbetaal word,” het hy gesê.

Die Pos het navrae aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gerig oor die bewering dat kapitaalfondse vir bedryfsuitgawes aangewend is en of die belastingbetalers nou moet opdok vir die voltooiing van die projek? Hy het gesê dié inligting kan eers op ’n later stadium bekendgemaak word.

  • Volgens die begroting is daar slegs vir twee kapitale projekte in die dorp se kragnetwerk begroot.

Een gedeelte (R3 miljoen) is toegestaan om die straatligte in die dorp met koste-effektiewe straatligte te vervang.

Die tweede gedeelte (R8 miljoen) is om 500 huishoudings in die Koppewaai-gebied van krag te voorsien.

Die munisipaliteit het egter aangedui dat hierdie geld eers in die 2022/2023-boekjaar bestee sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button