MunicipalNews

Thabazimbi stortingsterrein slaan ’n skoon blaadjie om

Die Donkerpoort-stortingsterrein het die afgelope paar jaar ’n seeroog vir die inwoners van Thabazimbi geword.

Volgens inwoners wissel die toestand van die terrein vir ’n geruime tyd al tussen baie sleg en ondraaglik.

Die gebrek aan optrede van munisipale kant het inwoners warm onder die kraag.

 

Lede van die menseregtekommissie (MRK) het die afgelope week saam met Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus, besoek aan die Donkerpoort-stortingsterrein by Thabazimbi gebring.

 

Die stortingsterrein is egter uiteindelik die afgelope week skoongemaak en daar sal in die toekoms deurlopende pogings aangewend word om dié terrein en die onderhoud daarvan beter te bestuur.

“Stortingsterreine wat reg bestuur word, moet voltyds in stand gehou word, maar tans beskik die Thabazimbi plaaslike munisipaliteit (TLM) nie oor die masjinerie of voertuie wat nodig is om dit te doen nie,” het Thane Hearne, speaker van die TLM, aan Die Pos verduidelik.

“Die munisipaliteit is egter in druk gesprek om hulp van verskeie belanghebbendes te vra aangesien ons nie finansieel in staat daartoe is om tans masjinerie van ons eie aan te skaf nie.”

Van hierdie rolspelers het reeds begin met onderhandelings om twee voorlaaiermasjiene te verskaf om die las by die Donkerpoort-stortingsterrein, asook die perseel in Northam, te verlig.

“TLM is, met die hulp van Siyanda Bakgatla, tans besig om Northam Landfill Site skoon te stoot. Volgens die gemeenskapsdirekteur, Segale Pilane, is ’n diensverskaffer op Maandag 26 April aangestel om die volgende paar dae ook die probleem van brandende vullis in Northam te probeer oplos. Ons het ook hulp van PPC-sement en Kumba-myn gekry wat eersdaags aan ons twee voorlaaiermasjiene sal verskaf. ”

Talle inwoners het klagtes oor wanbestuur geopper. Van hulle het aan Die Pos gesê hulle ondervind weekliks probleme by die stortingsterrein. Sommiges het omgedraai en op ’n later geleentheid weer probeer om toegang tot die terrein te verkry.

Daar was ook ander inwoners wat gesê het hulle was genoop om vullis buite die terrein te stort. Die munisipaliteit maan egter dat inwoners geduldig moet wees en nie hul vullis buite die amptelike sake-ure moet stort nie.

“TLM is diep bewus van die aanhoudende probleme en uitdagings by Northam en Donkerpoort, maar ons vra dat inwoners geduldig moet wees. Onwettige storting van rommel vererger die probleem. Die publiek moet weet dat die storting van rommel op oop persele onwettig is,” het Hearne gemaan.

Nasionale wetgewing vereis dat munisipaliteite ’n verpligting het om die stortingsterreine in hul omgewing te bestuur en aan streng omgewingswette moet voldoen.

Volgens Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus, hou die toestand van stortingsterreine ’n groot gesondheidsgevaar vir inwoners in en daarom moet elke moontlike maatreël getref word om te verseker dat die Donkerhoek-stortingsterrein, asook ander stortingsterreine regoor die provinsie, beter bestuur word.

“Daar was die afgelope jaar verskeie oorsigbesoeke tussen die Vryheidsfront-Plus in Limpopo en die menseregtekommissie (MRK) se dr. Eileen Carter om die situasie by die dorp se stortingsterrein te beredder,” het Maritz aan Die Pos verduidelik.

“Die MRK het tydens die laaste besoek bevind dat die munisipaliteit nie al sy wetlike verpligtinge nakom nie en dat dit ’n skending van die inwoners se basiese menseregte is.”

Die munisipaliteit het daarna met die skoonmaak van die Donkerpoort- stortingsterrein begin. Daar sal oor die volgende paar maande deeglik gelet word op die vordering by dié terrein.

Related Articles

Back to top button