MunicipalNews

Suid-Afrikaners gaan Augustus stembus toe

Die langverwagte nasionale plaaslike regeringsverkiesing is vir Woensdag 27 Oktober geskeduleer.

Luidens ’n verklaring van die presidentskantoor sal dit die sesde demokratiese verkiesing wees waar kiesers vir hul gekose distrik- en plaaslike verteenwoordigers sal stem.

Die datum moet in terme van wetgewing nog in die Staatskoerant geproklameer word.

Daar was in die 2016-verkiesing altesame 30 212 geregistreerde kiesers in die Bela-Bela-kiesafdeling. Net 16 758 kiesers het egter hul kruisies gaan trek. Dit het die indruk geskep dat mense vertroue in politici verloor het.

Die Onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) was sedert die verkiesing in 2016 met verskeie tussenverkiesings gemoeid om vakatures op plaaslike regeringsvlak te vul. Die Covid-19-pandemie het egter talle partyaktiwiteite in die wiele gery. Die OVK het egter nou verklaar dat partye sedert Maart weer aktief werwing doen.

Daar mag ingevolge Vlak 1 van die Covid-19-regulasies nie meer as 100 mense binnenshuis en 250 mense by buitelugbyeenkomste wees nie.

Dit sluit politieke vergaderings in. Pres. Cyril Ramaphosa het landsburgers tydens die bekendmaking van die verkiesingsdatum aangeraai om te registreer sodat elke kieser ’n sê kan hê wat dienslewering en ontwikkeling in hul eie woongebied betref.

Kiesers word aangeraai om dringend hul registrasiestatus na te gaan. Kiesers wat verhuis het, moet ook seker maak dat hulle in die korrekte wyk geregistreer is.

Volgens ’n woordvoerder van die OVK-kantoor in Bela-Bela sal daar voorlopig in Julie ’n registrasietydperk plaasvind. Hulle het kiesers aangeraai om met die naaste OVK-kantoor in vebinding te tree om besonderhede na te gaan en te bevestig.

Die datum van die registrasietydperk moet nog bevestig word. Kiesers wat weens fisieke gebreke nie by die OVK-kantoor kan uitkom nie, kan ’n OVK-amptenaar vra om hul tuis te besoek.

Die Bela-Bela OVK-kantoor is by die Bela-Bela-munisipaliteit geleë. Kantoorure is van Maandag tot Vrydag van 07:30 tot 16:00.

Kiesers kan ook die OVK se webwerf by www.elections.org.za, besoek om hul registrasiestatus na te gaan.

Vir navrae kan mense Bela-Bela se OVK-kantoor direk skakel by tel. (014) 736 8006.

Related Articles

Back to top button