MunicipalNews

Munisipaliteit wil op infrastruktuur fokus

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sê hulle het groot planne om water- en rioolprobleme in dié dorpe in die volgende boekwerjaar reg te ruk.

Die munisipaliteit het ’n mediaverklaring uitgereik waarin hulle inwoners in kennis stel van infrastruktuurprojekte wat voorgelê word in die konsepgeïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2021/2022-boekjaar.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, word die munisipaliteit se diensleweringsvermoë negatief geraak deur verwaarloosde infrastruktuur.

Die voorgestelde GOP-plan bevat juis projekte wat daarop gemik is om die munisipaliteit se basiese dienslewering te verbeter, het sy gesê. Van Staden het gesê daar sal veral op die volgende gefokus word:

Water:
Die opgradering van die Nyl-waterpompstasie en -reservoir in Mookgophong, asook die oprigting en toerusting van boorgate in Mookgophong, Roedtan en Vaalwater.

Die opknapping van die Donkerpoort-watersuiweringsaanleg is ook belangrik, asook die installering van bystandkragopwekkers by elke water- en rioolaanleg.

Daar word ook beoog om foutiewe watermeters te vervang en nuwe meters in Modimolle, Mookgophong en Vaalwater te installeer.

Sanitasie:
Die opknapping van die Modimolle- en Mookgophong-rioolaanlegte is reeds in die derde fase. Daarmee saam word opknapping van die rioolaanleg in Alma en die rioolpompstasie in Mookgophong beplan.

In Modimolle moet die opgradering van die hoofrioolpype dringend aandag geniet in Limpopo-, Paul Kruger-, Lillian Ngoyi- en Joe Slovostraat.

Die opgradering van rioolpype in die Modimolle-nywerheidsgebied is reeds in die tweede fase. Daar is ook opgradering van die hoofrioolafval-pyplyn in Phagameng (Jay Naidoostraat) in Modimolle en Uitbreiding 5 en 6 in Mookgophong.

Paaie en stormwater:
Projekte word beoog vir die aanbring van plaveistene op die ringpad, asook hooftoegangsroete in Phagameng se Uitbreiding 10 (wyk 13).

Die laagwaterbrugprojek in Limpopostraat nader ook ná sewe jaar voltooiing.

  • Die herstel van slaggate word nie op die munisipaliteit se voorkeurlys genoem nie.
  • Die opbou van mangate laer as die watervlak, wat telkens tydens swaar reënval vol grond spoel en pyplyne verstop, word ook nie aangedui nie.

Ander projekte:

  • Daar word beoog om die sportgeriewe in Uitbreiding 1 van Leseding te ontwikkel en uit te brei.
  • Hoëmasstraatligte sal aangebring word in verskeie uitbreidings van Phagameng (Modimolle), Leseding (Alma) en Thusang (Roedtan).
  • Die rehabilitasie van die huidige stortingsterrein in Modimolle word beoog.
  • Die volledige konsepgeïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2021/2022 is beskikbaar op die plaaslike munisipaliteit se webwerf by www.mmlm.gov.za (soek in dokumente lêer). Die datum van die openbare deelnamevergadering is nog nie bekendgemaak nie.

Inwoners is welkom om voor Vrydag 30 April skriftelik insette aan dr. Shepherd Mhlanga, munisipale bestuurder, te rig via e-pos of per hand af te lewer by die rekordkantoor in Modimolle.

Rig e-posse aan records@modimolle.gov.za of hester@modimolle.gov.za(.)

Related Articles

Back to top button