MunicipalNews

Goeie nuus vir gebruikers van R101-pad

Die R101 (die “ou pad” tussen tussen Modimolle en Bela-Bela) gaan moontlik eersdaags opgegradeer word.

Daar het oor die Paasnaweek chaos geheers en moedelose motorryers het talle video’s geneem van die wetteloosheid op dié pad.

Motorryers is op Maandag 5 April ure vertraag in verkeersopeenhopings.

Die Pos het verneem dat die chaos ontstaan het nadat motorryers vanaf die Kranskop-tolhek buite Modimolle na die R101-pad gekanaliseer is.

Daar was egter geen kommunikasie tussen plaaslike en provinsiale verkeersowerhede nie en die dorpe se verkeersowerhede is onverhoeds betrap deur verkeersvolumes wat hulle nie kon hanteer nie.

Luidens ’n kennisgewing van die Suid- Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) en GA Environmental oorweeg hulle tans insette oor die moontlike opgradering van die R101-pad.

Die opgradering word beoog vir die ongeveer 26,8 km wat strek van Chris Haniweg in Bela-Bela tot by die kruising van die R33 en R101-paaie in Modimolle.

Vukosi Mabunda van GA Environmental het aan Die Pos gesê sy onderneming is met die impakstudie gemoeid. Hy het gesê waterbronne langs die roete sal in ag geneem word.

“Daar is drie riviere wat in hierdie omgewing vloei. Dit sluit die Nylrivier in wat by die ATKV Klein Kariba-vakansieoord verbyvloei, die Groot Nylrivier en Bad-se-Loop. Ons is in die proses om met die 280 grondeienaars langs die roete kontak te maak en hulle oor die beoogde opgradering in kennis te stel.”

Hy het voorts gesê daar is twee bestaande brûe en ses stormwaterslote op die roete wat ook spesiale aandag verg.

Luidens GA Environmental is die pad tans ongeveer sewe meter breed. Met die opgradering sal die padoppervlakte wyer gemaak word sodat die verkeer tussen die dorpe beter kan vloei. Mabunda het gesê Vrydag 21 Mei is die gekose datum vir die publiek se insette. Belanghebbendes sal nog tot einde Mei geleentheid hê om insette te lewer waarna die gewysigde konsepplan einde Junie vir die publiek beskikbaar gestel sal word.

Die konsepplan sal beskikbaar wees by elke munisipaliteit se biblioteek en amptenare van albei munisipaliteite sal met ’n harde kopie van die konsepplan voorsien word vir openbare kennisname, het Mabunda gesê.

Indien belanghebbendes met die konsepplan tevrede is sal die finale verslag aan die einde van Julie aan Sanral deurgegee word.

Daar is nog geen aanduiding wanneer die opgradering sal afskop nie. N

avrae kan intussen gerig word aan Mabunda by tel. (011) 312 2537 of alternatief tel. 082 048 9840. E-posse kan gestuur word na environment@gaenvironment.com of alternatiewelik na vukosim@gaenvironment.com(.)

Related Articles

Back to top button