MunicipalNews

‘Dit was 4 jaar van bloedsweet,’ sê burgemeester

Die munisipaliteit van Modimolle en Mookgophong het tydens die vorige munisipale verkiesings die bykans onmoontlike in Limpopo reggery deur die jarelange ANC-beheerde munisipaliteit uit te skop.

Hulle het dít reggekry deur ’n samewerkingsooreenkoms met die EFF en die Vryheidsfront-Plus te vorm.

Marlene van Staden, ’n boorling van Vaalwater met ’n B.Com-honneursgraad in sakebestuur (met finansiële bestuur as spesialisrigting), asook ’n onderwyskwalifikasie, is in ’n verrassende wending as burgemeester verkies. Sy was die eerste Afrikaanssprekende vrou ooit wat dié posisie beklee het.

“Ek wou ’n verskil maak. Ek wou werklik iets dóén om my grootwordwêreld te verbeter vir álmal wat daarin woon. Maar soms voel dit ook asof ek my rug vir ongelooflik baie kritiek oopgemaak het. Mense verstaan glad nie dat een swaeltjie nie die somer kan maak nie. Munisipaliteite sit landwyd met ’n magdom onbekwame, onwillige, korrupte amptenare en inwoners verwag dat een of twee raadslede hierdie verval in ’n japtrap moet regruk,” het Van Staden in ’n openhartige onderhoud aan Die Pos gesê.

Die Pos het by haar gaan inloer om te hoor hoe dit met Modimolle, Mookgophong en Vaalwater gaan.

En hoe dit met háár gaan — eggenoot, ma van twee klein seuntjies en iemand wat nie huiwer om haar sê te sê nie.

Hoe maak jy tyd vir jou gesin?
Ek het ’n uitstekende ondersteuningsgroep wat my en my gesin bystaan. Ek is ontsettend besig en moet gereeld saans en oor naweke werk.

Ek probeer om my aandag gedurende die dag voltyds aan die munisipaliteit te gee, wat beteken dat ek saans en naweke politieke werk moet doen.

My gesin is gelukkig baie aanpasbaar — veral my man, Hannes. Ek vermoed hy raak baie gefrustreerd met my wat heeltyd op die selfoon besig is!

Ek probeer om gehaltetyd met my gesin deur te bring. Aandete, badtyd en bedtyd is spesiaal en ek lees baie vir die kinders voor.

Hoe kry jy die lang ure op die pad om?
Ek is elke dag minstens twee uur op die pad. Ek gebruik die plekke waar daar nie sein is nie, om te dink en die ander dele om te bel. Ek het baie keer tot 40 “missed calls”.

Die pad help om my kop skoon te kry of die adrenalien onder beheer te kry. Ek sal byvoorbeeld baie ontsteld by die kantoor wegry, maar dan heel vriendelik by die huis uitklim.

Ek hou daarvan om musiek en radio te luister en sing soms kliphard saam.

Kry jy tyd vir oefen en volg jy ’n spesiale dieet?
Ek kry tans geen tyd vir oefen nie. Ek het al opgehou om voornemens te maak. Ek sal weer probeer as Dian, my baba van sewe maande, ouer is. Ek borsvoed hom tans nog.

Saans as ek hom aan die slaap sus, sê ek vir myself: “Moenie kla nie. Hierdie is darem oefening!”

Ek eet baie vrugte en groente, maar het ’n soettand en sê moeilik nee vir ’n stuk koek of sjokolade.

Wat is die een duur les wat jy die afgelope vier jaar geleer het?
Dat ek nie mense kan vertrou nie.

Wat beskou jy as die grootste verandering wat onder jou bestuur in Modimolle/Mookgophong plaasgevind het?
Die kultuur van die munisipaliteit. Ek is oortuig daarvan dat die hele kultuur van die munisipaliteit onder die huidige bestuur verander het.

Amptenare (ongelukkig nie almal nie) dink anders. Hulle werk teen tyd en hou dagboeke.

Hulle deel inligting en stel verslae op. Hulle stoor dokumente en hou bewyse.

Raadslede en amptenare kommunikeer meer en beter. Hulle het gewoond geraak daaraan dat dinge deursigtig moet wees en dat ’n mens leierskap kan hê wat nie net daarop uit is om iets vir hulself bymekaar te maak nie, maar vir die gemeenskap wil werk.

Vertel ons van die burgemeestersketting?
Die voormalige Modimolle-munisipaliteit se ketting is onlangs gewaardeer en ek kan bevestig dat dit nog 80% die oorspronklike een is.

Die wapen onderaan was nuut en word nou vervang deur die Modimolle-Mookgophong-wapen.

Al die vorige burgemeesters se besonderhede is daarop gegraveer. Die voormalige Mookgophong-munisipaliteit se ketting is ook in ons besit. Dit is ook waardevol, maar het geen besonderhede van vorige burgemeesters op nie.

Mense verwys gereeld na munisipale amptenare as “lui, onbekwaam, korrup”.

Hoe voel jy oor dié siening?
Ongelukkig het staatsamptenare in Suid-Afrika ’n baie slegte reputasie en daar is ook in ons munisipaliteit steeds mense wat nie hul kant bring nie.

Mense vergeet egter dat as jy nuwe politieke leierskap kry, dit niks aan die amptenary verander nie.

Ons het eenvoudig alle voormalige munisipale amptenare van albei die vorige twee munisipaliteite “geërf”.

Daar is wel uitstekende mense wat by die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit werk.

Ek het baie respek vir die waarnemende munisipale bestuurder, dr. Shephard Mhlanga. Hy is uiters bekwaam en ek dink glad nie daardie beskrywing is op hom, of enige van die munisipaliteit se topbestuur, van toepassing nie.

Daar is ’n kultuur in Suid-Afrika geskep wat baie sleg is. Mense was (en word steeds in ander munisipaliteite) aangestel op grond van politieke affiliasie en nie omdat hulle bekwaam, gekwalifiseerd of hardwerkend is nie. Dit beteken dat daar baie amptenare is wat net eenvoudig nie werk nie.

Een ding wat ek tog gesien het, is dat mense kan verander. Daar werk mense by ons munisipaliteit wat my absoluut verbaas het. Hulle werkskultuur het verander. Hulle is nou produktief, innoverend en lewer ’n uitstekende bydrae.

Gesindhede kan verander wanneer politici nie onnodig inmeng nie, as ’n mens dankie sê vir goeie werk en as jy jou bes probeer om negatiewe elemente en korrupsie te verwyder. Ek is dankbaar vir elke amptenaar wat hard werk en produktief is. Hulle stel ’n voorbeeld aan ander.

Kan jy inwoners van die Waterberg gerusstel dat daar wérklik lig in die tonnel is wat riool, vullisverwydering, geldverduistering, padtoestande en ander diensleweringsaspekte in jou munisipaliteit betref?
Beslis. Ek dink nie mense besef hoe sleg die nuwe munisipaliteit direk ná die samesmelting was nie.

Ons het baie gevorder en baie suksesse bereik. Ongelukkig is die wanbestuur en swak instandhouding van meer as 22 jaar nie iets wat ons in vier of vyf jaar ongedaan kan maak nie.

Ek dink dit sal die munisipaliteit nog tien jaar neem om werklik finansiële stabiliteit te bereik en in ’n posisie te wees om uitstekende dienste te lewer.

Daar word elke dag ’n bietjie vordering gemaak.

Wat is jou gevoel oor die komende munisipale verkiesing en wat is die pad vorentoe vir jou persoonlik?
My persoonlike gevoel is dat mense wat in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit woon, nóóit weer die ANC vatplek sal gee nie en dat ieder en elk sal stem vir verandering en sekerheid.

Ek glo nie die werk van die afgelope vier en ’n half jaar sal tot niet gaan nie, maar ’n fondasie wees vir ’n voorbeeld van uitstekende plaaslike bestuur in Limpopo.

Ek glo dat belastingbetalers moet saamstaan en beter daaraan toe sal wees as hulle vir een enkele party stem. Ek glo dat daardie party die DA is.

Related Articles

Back to top button