MunicipalNews

Noodhulp en Roodepoort- inwoners maak stem dik

Die Bela-Bela-munisipaliteit spartel om instandhouding aan munisipale infrastruktuur te doen en bevredigende dienste aan inwoners te lewer.

Inwoners van Roodepoort en Noodhulp buite die dorp, wat in Maart ongeveer twee weke lank sonder kragtoevoer moes klaarkom, het op Donderdag 8 April tydens ’n vergadering met amptenare aangedui hulle voel “gekul” deur die munisipaliteit.

Inwoners sê die installering van nuwe transformators is vertraag omdat die munisipaliteit gesloer het met die verkryging van toerusting. Daarna het die installering ook gesloer omdat die munisipaliteit versuim het om die terrein voldoende voor te berei.

Inwoners, wat toe al moedeloos was, is gevra om te help om bome te snoei wat kraglyne beskadig. Inwoners en sakelui sê hulle het enorme finansiële verliese gely weens dié twee weke lange kragonderbreking.

Dit het later aan die lig gekom dat drie van die transformators gesteel of foutief geraak het weens misdaad en dat instandhouding ook nie gedoen is nie.

Die Pos berig al geruime tyd oor booswigte wat transformators se koperkomponente stroop. Intussen het die munisipaliteit Noodhulp-inwoners ingelig dat die kragtoevoer wéér die eerste week in April onderbreek sou word vir dringende herstelwerk.

Die beplande onderbreking is uitgestel tot Donderdag 15 April. Thabang Kotsokoane, tegniese departementshoof, het tydens verlede week se vergadering gevra dat inwoners die munisipaliteit moet help deur op eie koste kraglyne in die omgewing oop te snoei.

Hy het tydens die vergadering gesê die munisipaliteit se hyskraan is nie padwaardig nie en personeel is nie opgelei om met kettingsae te werk nie. Die afdeling moet weens hul gebrek aan vermoë ander afdelingspersoneel kry om onder meer die snoeiwerk te doen, het hy gesê.

Inwoners het aangedui dat hulle baie verlig is dat nuwe toerusting geïnstalleer is. Hulle het ook hul dank aan Valley de Souza, privaat kontrakteur van die dorp, en Tinus Ras, DA-raadslid, betuig vir hul bydrae.

Jamela Selapyane, waarnemende munisipale bestuurder, het aangedui dat begrotingstekorte instandhouding en dienslewering kniehalter.

Die nuwe begroting tree in Julie in werking en sy het onderneem om Kotsokoane se afdeling van die nodige toerusting te voorsien.

Die munisipaliteit se kommunikasievermoë is ook skerp gekritisieer. Inwoners het gesê as daar beter kommunikasie was, kon hulle vroeër ingespring het om te help met snoeiwerk.

’n Whatsapp-groep is gestig om probleme onder amptenare se aandag te bring, omdat die munisipaliteit se kliëntedienssentrum en munisipale noodnommertelefoonlyn volgens inwoners onvoldoende is.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF) het gesê die munisipale vlootkontrakte moet ondersoek word en ’n opname moet gedoen word van beskikbare voertuie en toerusting.

Paul Mathews, voorsitter van die Roodepoort-buurtwag, het gesê die gemeenskap is bereid om die munisipaliteit te help, maar dan moet die munisipaliteit sy verantwoordelikhede nakom.

Related Articles

Back to top button