MunicipalNews

Inwoners raadop oor Modimolle se rioolprobleme

Inwoners en sakelui van Modimolle is behoorlik keelvol vir die voortslepende rioolprobleme in die dorp.

Volgens Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront-Plus, is daar reeds in 2020 ’n klag van besoedeling teen die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Dr. Melusi Sheperd Mhlanga, munisipale bestuurder, het tydens die verhoor op 26 en 27 November 2020 behoorlik deurgeloop onder vrae van die MRK.

Die Pos het met lede van die Waterberg-sakekamer in Modimolle oor die probleem gesels. Bernard Groenewald, mede-eienaar van LBG Holdings wat meer as 50 woonstelle in Limpopostraat (voorheen Rivierstraat) verhuur, het aan Die Pos gesê die ondraaglike stank veroorsaak dat huurders so gou moontlik wil verhuis.

Dit beïnvloed ook voornemende huurders. Hy het ’n video verskaf van die stroom riool wat al sedert 19 Maart direk in ’n stormwaterdrein reg voor die woonstelle in Limpopostraat inloop. Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon in Modimolle se nywerheidsgebied, het ’n video geneem van die riool wat al etlike maande reg oorkant sy onderneming se ingang in die Nylrivier stroom. Volgens hom het die probleem reeds vier jaar gelede ontstaan en is dit male sonder tal aangemeld.

Goncalves het aan Die Pos gesê heelwat mangate is sonder deksels wat veroorsaak dat grond en blare die pype verstop. Hy het selfs al op eie koste sementblokke gegiet sodat die munisipaliteit die mangate kan bedek. Kobus Engelbrecht, eienaar van GERCO-ingenieurswerke in Modimolle se nywerheidsgebied, het in Februarie vanjaar die oorloop van riool reg by hul onderneming se voordeur by die munisipaliteit aangemeld.

Hy sê dit was ’n reusekopseer en is eers ’n maand later herstel. Volgens inwoners van Phagameng loop strome rou riool tussen die huise en in die strate waar kinders langs dit speel. Inwoners sê hul klagtes val op dowe ore.

Wiets Botes, wat sedert 1999 as raadslid van die plaaslike munisipaliteit dien, het by navraag aan Die Pos gesê die rioolhooflyn loop parallel met Limpopostraat en strek vanaf die Modi Mall-winkelsentrum tot by die rioolsuiweringsaanleg teenaan Phagameng.

“Hoewel die munisipaleraad die voortslepende rioolprobleme wil afmaak as historiese probleme, was daar tot einde 2016 nie probleme met hierdie rioolhooflyn nie,” het Botes gesê.

Botes het bevestig dat ’n splinternuwe rioolsuiweringsaanleg in 2016 in werking gestel is met voldoende kapasiteit vir die hele dorp, Phagameng en die nywerheidsgebied.

“Daar is in die 2016/17-begroting voorsiening daarvoor gemaak om die bestaande aanleg op te knap en pompe en toerusting te herstel sodat die ou aanleg gebruik kon word wanneer dit nodig sou wees,” het hy gesê.

Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê die munisipaliteit onderneem tans projekte om die rioolprobleme in Modimolle en Mookgophong te verbeter. Sy skryf die oorloop van rioolpype en mangate onder meer toe aan die feit dat rioolpype in die dorp te klein is en ’n bottelnek vorm.

Voorts veroorsaak die vlak hellings in die dorpsgebied (gebrek aan gravitasie) die afsakking van vaste stowwe in die rioolpype wat tot blokkasies lei. Sy het ook gesê vreemde voorwerpe soos diervet, klippe, bourommel, weggooidoeke en klere beland gereeld in die afvoerstelsel.

Stormwater en grond vloei ook direk in van die pyplyne omdat mangate destyds op dieselfde vlak as die watervlak gebou is. Pyplyne oorstroom tydens hewige reënval en masjinerie kan nie gebruik word om die blokkasies te verwyder nie.

Volgens die munisipaliteit loods hulle vanjaar ’n amptelike projek om verskeie pyplyne in die dorp te vervang met pype wat ’n groter deursnee het.

Verbeterings sal ook aangebring word aan rioolpype wat oor die laagliggende gedeeltes van Joe Slovo-, Lillian Ngoyi- en Paul Krugerstraat strek.

Related Articles

Back to top button