MunicipalNews

Bela-Bela-munisipaliteit vra inwoners se hulp met vullis

Powere dienslewering, ’n onlangse loongeskil en gepaardgaande staking deur munisipale vakbondlede, asook onwettige vullisstorting deur inwoners, het Bela-Bela in ’n onooglike plek verander.

Inwoners en sakelui het onlangs self ingespring om vullis wat deur stakende munisipale werkers in die strate gegooi is, op te ruim. Daar is ook op verskeie geleenthede skoonmaakprojekte deur lede van die gemeenskap geloods.

Intussen kla talle inwoners — en die munisipaliteit óók — dat mede-inwoners bydra tot die probleem deur hul huishoudelike- en tuinvullis op onwettige plekke te stort.

Kerke, skole, parke en leë erwe loop veral deur. Sommige inwoners skroom ook nie om hul sakke sommer reg voor hul bure se huise te plaas nie. Vullis word ook in die nywerheidsgebied langs die pad afgelaai en die toegang tot die amptelike stortingsterrein word belemmer deur mense wat dit net daar in die pad stort.

Gemoedere loop die afgelope jaar hoog in dié dorp — wat eens as die Sonskyndorp bekend gestaan het — omdat daar van inwoners verwag word om self vullis te verwyder, terwyl heffings maandeliks aan die munisipaliteit betaal word om dit te doen.

Die verwydering van tuinvullis is egter inwoners se eie verantwoordelikheid en dit word nie deur die munisipaliteit verwyder nie.

Die munisipaliteit het intussen ’n verklaring uitgereik waarin hulle die gemeenskap waarsku oor besoedeling weens onwettige vullisstorting. Die munisipaliteit sê in die verklaring vullis kan grondwater besoedel en ’n negatiewe invloed op inwoners se gesondheid hê.

Die onwettige storting van vullis kan ook ’n negatiewe invloed op die landbousektor hê. Verder lui die verklaring dat onooglike en onwettige vullisstorting die eiendomsmark in die omgewing negatief kan raak.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die rede vir die verklaring was om inwoners aan te spoor om alternatiewe opsies vir herwinning te oorweeg en ’n wins daaruit te maak.

Hy het gesê munisipale vullisverwydering word nou weer gedoen, maar teen druktyd vandeesweek het talle inwoners in die omgewing van die Apiesdoringparkie gekla dat hulle wéér self hul vullissakke moes verwyder nadat dit nie die vorige week verwyder is nie.

Mosito het inwoners aangemoedig om te help om die dorp se aansien te verbeter.

“Dit bly die munisipaliteit se grondwetlike plig om die gebied skoon en netjies te probeer hou, maar inwoners sal ook hul kant moet bring.” Hy het gesê die gemeenskap moet herwinning bevorder en dit ’n leefwyse maak.

Die munisipaliteit versoek inwoners om onwettige stortingsterreine of mense wat onwettig vullis stort, aan die munisipaliteit te rapporteer.

Mense kan vir Andrew Mohlala, die amptenaar in beheer van vullisverwydering, direk bel by tel. 082 555 4229 of stuur ’n e-pos aan Mohlalaa@belabela.gov.za(.)

Related Articles

Back to top button