MunicipalNews

‘Red Bela-Bela’ deur hofbevel te verkry

“Ons is by ’n kruispad. Daar gaan niks van die dorp oorbly indien die gemeenskap nie dadelik ingryp nie.”

Dít was die pleidooi van Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), aan ’n volgepakte saal tydens ’n noodvergadering wat op Saterdag 27 Maart by Laerskool Warmbad gehou is.

Inwoners van Bela-Bela wil nou — soos onlangs in Koster in Noodwes gebeur het — die hof nader om te beveel dat munisipale dienste, soos die instandhouding aan infrastruktuur, self bestuur word.

Bela-Bela — insluitende inwoners van Roodepoort, Noodhulp, Bospoort, die dorp self en die township — gaan die afgelope jaar gebuk onder ernstige diensleweringsprobleme. Mills het gesê die dorp staan op die rand van bankrotskap en die gevaar raak daagliks groter dat daar op ’n ramptoestand afgestuur word.

“Die ouditeurgeneraal dui in sy vorige verslag van die Bela-Bela-munisipaliteit aan dat die munisipale bestuur nie die dorp of die inwoners se belange in ag neem nie. Hulle versuim om instandhoudingswerk te doen en dit sal die dorp se ondergang beteken,” het hy gesê.

Hy het gesê in die paar dae voor die vergadering was daar ongeveer 20 lekkasies weens foutiewe pype.

“Dan praat ons nie eens van die probleme by die kragnetwerk, rioolaanleg en die toestand van ons paaie nie.”

Mills het gesê ’n hofbevel sal die munisipaliteit dwing om vir sy inwoners om te gee. Hy het syfers aangehaal waar daar in die vorige boekjaar verliese van tussen R4-17 miljoen aangeteken is weens lekkende waterpype.

Die dorp se kragrekening by Eskom beloop na verneem word meer as R40 miljoen en skuld aan Magalies Water beloop ongeveer R12 miljoen. Magalies Water voorsien tans ongeveer 40% van die dorp se water.

“Die munisipaliteit se totale skuldlas aan krediteure is meer as die waarde van die munisipale bates,” het die vergadering gehoor.

Mills het ook gesê swak invordering en die onwettige afskryf van skuld dra by tot die finansiële krisis.

“Die 2020-besluit om 50% van alle diensgeld af te skryf, was onwettig en nie tot voordeel van die dorp nie.”

Volgens Mills betaal inwoners van Bela-Bela sowat 62% meer eiendomsbelasting as inwoners van Sandton. Boonop is ’n skamele 21% van die dorp se sakelui en inwoners verantwoordelik vir 90% van die totale belastingsinkomste aan die munisipaliteit, het hy gesê.

“Bykans elke sent wat ingevorder word, word vir salarisse aangewend (ongeveer R131 miljoen), maar die munisipaliteit het in die vorige boekjaar nie eens 1% van sy totale begroting op instandhouding bestee nie. As al die geld aan salarisse gaan en instandhouding nie gedoen word nie, sal munisipale dienste heeltemal ineenstort.”

Hy het in reaksie op inwoners wat belasting wil weerhou, gesê belastingbetalers moet hul geld terughou tot op die laaste dag van betaling soos wat dit op die onderskeie munisipale rekenings aangedui word.

“Inwoners moet druk op die munisipaliteit plaas om hul werk te doen,” het Mills gesê. “Ons hou binnekort samesprekings met regsgeleerdes om die hofproses ’n werklikheid te maak, maar ons sal die gemeenskap se hulp en bydraes nodig hê.”

Hy het gesê alle regsopsies word nou oorweeg om die munisipaliteit deur wetgewing te dwing om hul pligte na te kom.

“Niemand mag meer op die kantlyn sit en kla nie. Ons moet saamstaan om ons dorp van algehele verval te red.”

Vir navrae kan mense vir Mills bel by tel. 084 447 3148 of vir Daleen Steynberg by tel. 082 787 5067.

  • Daar was geen amptelike afvaardiging van die munisipaliteit by die vergadering nie. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie aan Die Pos gesê die munispaliteit neem kennis van wat op die vergadering gesê is en sal die gemeenskap op hoogte van sake hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button