MunicipalNews

Grondpaaie steeds baie sleg

Inwoners van Modimolle is stééds moedeloos oor die toestand van die grondpaaie in die dorp se nywerheidsgebied.

Die Pos het op Vrydag 29 Januarie berig oor die uiters swak toestand van die paaie in die nywerheidsgebied van Modimolle.

Hoewel die probleem die afgelope vier jaar male sonder tal met die betrokke owerhede bespreek is, is die pad steeds nie herstel nie.

Dit het ’n kopseer vir veral sakelui in die gebied geword omdat kliënte en verskaffers nie by hul sakepersele kan uitkom nie.

Die Pos het by Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gaan aanklop hieroor en verneem dat die tenderproses om plaveiselstene en ander benodigdhede aan te skaf, reeds suksesvol gesluit is.

“Hierdie projek word deur die plaaslike munisipaliteit befonds en die geld is reeds in 2020 daarvoor opsy gesit. Volgens die tegniese bestuurder behoort die opgradering van die pad vroeg in April te begin,” het Van Staden gesê.

Sy het daarop gewys dat daar steeds kort-kort swaar reën oor die dorp uitsak en dat dit ook daartoe bydra dat die grondpaaie in die nywerheidsgebied versleg. Motorryers word gemaan om asseblief versigtig te bestuur.

Related Articles

Back to top button