MunicipalNews

AfriForum hooggeregshof toe oor Mookgophong se waterprobleme

Inwoners van Mookgophong, Roedtan en Thusang sal na verwagting eersdaags volhoubare watertoevoer ontvang nadat AfriForum op Dinsdag 16 Maart die hooggeregshof in Polokwane in ’n dringende hofaansoek genader en die saak gewen het.

Die hofbevel bepaal dat die twee boorgate wat in 2020 by die Nyl-vallei geboor is, asook die twee plaasvervangerboorgate, binne 10 dae toegerus en aan die waternetwerk gekoppel moet word.

Die waterpompe wat by die Welgevonden-dam (die ou Frikkie Geyser-dam) geïnstalleer word, moet voldoende pompvermoë hê om aan die daaglikse toelaatbare kwota water te voordoen.

Phillip van Staden, AfriForum-takvoorsitter in Mookgophong, het aan Die Pos gesê die gereelde leë beloftes van die munisipaliteit oor instandhouding en ontwikkelingsplanne het tot die hofsaak gelei.

Boorgate wat nie toegerus is nie en noodsaaklike infrastruktuur wat gereeld onklaar raak, het tot uitgerekte wateronderbrekings gelei, het hy gesê.

“Die wet bepaal dat mense ’n reg tot water het en dat niemand langer as sewe dae sonder water mag wees nie. Mookgophong was in Januarie vir 12 dae sonder water en Roedtan vir 14 dae,” het hy gesê.

Volgens van Staden het die watertoevoer in 2020 merkbaar verswak weens instandhouding wat nie gedoen is nie. Die daaglikse kwota voorgeskrewe liter water per huishouding het gekrimp.

Die sakegemeenskap het, in samewerking met AfriForum, pogings aangewend om die munisipaliteit te help. Derduisende rande en baie arbeid is beskikbaar gestel om die waterkrisis te beredder.

“Ons het goed saam met die munisipaliteit gewerk en nie ’n enkele sent teruggeëis nie, maar die werklikheid is dat die dorp en gemeenskap reeds sonder water sou wees as ons nie geld en arbeid beskikbaar gestel het om die infrastruktuur te herstel nie. Die munisipaliteit is verantwoordelik daarvoor, maar bly in gebreke om hul verantwoordelikheid na te kom,” het hy gesê.

“Die munisipale bestuurder, asook die premier, het glad nie op ons pleidooie gereageer nie. Dit is nie aangenaam om ’n hofaansoek te bring nie, maar daar was geen ander keuse nie.”

Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, het by navraag gesê die voorgeskrewe hoeveelheid water wat elke huishouding volgens wet moet ontvang, is 25 liter per persoon per dag, 6kl per huishouding per maand en die minimumvloei moet sowat 10 liter per minuut wees.

Die munisipaliteit moet ingevolge die hofbevel sorg dat daar genoeg onderdele in voorraad is om dringende herstelwerk aan die water- en elektrisiteitsvoorsieninginfrastruktuur te doen.

Onderdele wat vir herstelwerk gebruik is, moet binne twee weke aangevul word in die munisipale store.

Die hofbevel bepaal verder dat Meluse Malanga, waarnemende munisipale bestuurder, en die munisipaliteit moet toesien dat boorgatpompe wat water aan Mookgophong, Roedtan en Thusang lewer met kragopwekkers toegerus word sodat water ook tydens kragonderbrekings voorsien kan word.

“Die 10 dae-tydperk vir die munisipaliteit om daadwerklik op te tree het amptelik op Vrydag 19 Maart in werking getree. As die munisipaliteit die bevel verontagsaam, sal AfriForum ’n tweede hofaansoek bring en ’n diensverskaffer aanstel wat die infrastruktuur verder sal bestuur,” het Jansen van Vuuren gesê.

AfriForum het intussen ’n watertenk by die NG-kerk in Roedtan opgerig waar mense wat deur die wateronderbrekings geraak word, water kan afhaal.

Die munisipaliteit voorsien ’n vragmotor wat water na die betrokke gebiede kan aanry. * Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het nie die hofbevel teengestaan nie.

Sien die amptelike reaksie op die uitspraak elders.

Related Articles

Back to top button