MunicipalNews

Hof steek stokkie voor stakers se planne

Die arbeidshof het ’n stokkie gesteek voor die uitgerekte werkstaking deur munisipale vakbondlede van Bela-Bela.

Lede van die Suid-Afrikaanse munisipale werkersvakbond (Samwu) staak die afgelope twee weke weens ’n arbeidsgeskil.

Samwu-verteenwoordigers dring daarop aan dat bykomende vergoedingsbonusse betaal moet word aan werkers wat hul werksaamhede tydens die Covid-19-grendeltyd voortgesit het.

Werkers het volle salarisse in dié tyd ontvang. Die dorp is sedert die begin van die staking sonder die meeste munisipale dienste gelaat.

Stakers het ook op Woensdag 17 Maart die strate ingevaar en rommel gestrooi en randstene en klippe in die paaie gepak.

Volgens die munisipaliteit was tegniese spanne en nooddienspersoneel egter wel aan diens. Sakelui en inwoners van die dorp het verlede week ingespring en die vullis in die strate opgeruim en voorwerpe uit die paaie verwyder.

Die munisipaliteit het in reaksie gesê hulle beskik nie tans oor die geld om toelaes te betaal nie. Die tussentydse begroting vir die nuwe boekjaar is onlangs goedgekeur en maak nie voorsiening vir dié uitgawe nie. Die munispaliteit het die hof einde verlede week genader om protesgangers te stuit.

Die hof het bevind die optrede van die 243 stakers (wie se name aan die hof voorgelê is) is onwettig. Die werkers is beveel om sonder versuim aan te meld vir werk.

Die bevel het die betogers voorts verbied om medewerkers te intimideer of ander te verhoed om hul daaglikse pligte te hervat.

Hulle is 72 uur gegun om terug te keer werk toe. Die respondente is wel die geleentheid gegun om teen Julie redes te verskaf waarom hulle dink die bevel ter syde gestel moet word.

Elliot Mohlala, Samwu-woordvoerder, het op Donderdag 18 Maart die bevel aan die betogers bekend gemaak. Die betogers het ná die aankondiging by die munisipale kantoor in die dorp saamgedrom, maar later die terrein druipstert verlaat.

Samwu het intussen aangedui dat al die werkers hul pligte teen Vrydag 19 Maart sou hervat en “aandag sal skenk aan die vullisverwydering- en rioolprobleme” wat intussen in die dorp ontstaan het.

Related Articles

Back to top button