MunicipalNews

Bela-Bela-inwoners lei deur voorbeeld

Munisipale werkers wat Bela-Bela se strate op Maandag 15 Maart versies het deur oral rommel te strooi, het nie rekening gehou met doelgerigte sakelui en inwoners van die dorp nie.

Inwoners het gou nadat die boodskap oor die werkers se optrede versprei het, begin reëlings tref om by ’n sentrale punt in die dorp byeen te kom en die gemors op te ruim.

Lede van die munisipale werkersunie (Samwu) het hul ontevredenheid met die munisipaliteit (hul werkgewer) getoon deur ’n optog deur die dorp te organiseer.

Volgens vakbondlede is hulle ’n toelae beloof vir die werk wat hulle tydens die Covid-19-grendeltydperk verrig het. Volgens die werkers sou dié toelaes in Augustus aan hulle uitbetaal word. Munispale werkers het wel in hierdie tyd hul volle salarisse ontvang.

Inwoners se gemoedere loop reeds geruime tyd hoog oor swak dienslewering in Bela-Bela. Klagtes stroom veral in oor die gebrek aan dienslewering by die dorp se verkeersafdeling, asook riool-, elektrisiteits- en parke-afdelings.

Die betogers het vyf strate in die sentrale sakesektor met vullis bestrooi. Al die asblikke is omgekeer en hulle het randstene verwyder en klippe versamel en dit in die paaie geplaas. Die terrein om die munisipale gebou het veral deurgeloop.

Betogers het reeds vroegoggend die munisipale gebou se kliëntedienssentrum ontwrig. Hulle het ’n brandkraan in die gebou oopgedraai en vloere wat met vullis bestrooi was, was onderwater. Daar het ’n onaangename reuk van verrottende vullis in die lug gehang terwyl Die Pos op die toneel was. Motorryers wat dit wou waag in Minnaar-, Van der Merwe-, Chris Hani-, Luna- en Pretoriastraat, moes versigtig ry om vullissakke, glasbottels, klippe en stukke sement te vermy.

Die Pos se sypaadjie en tuin is ook geplunder en betogers het klippe uit die rotstuin verwyder en dit in Minnaarstraat gegooi.

Volgens ’n woordvoerder van die polisie het die plaaslike polisiestasie, asook lede van die polisie se openbare orde-eenheid van Modimolle, die betogers gemoniteer en later die dag met die unie se leiers vergader. Betogers het teen ongeveer 13:00 stoom verloor en plek-plek net saamgedrom.

Sakelui, inwoners, asook buurtwaglede, het teen middagete by die Spar-parkeerterrein in die dorp byeengekom. Hulle het die strate afgesper, besems en harke nadergetrek en vullissakke begin volmaak met die rommel wat gestrooi is.

Van die dorp se motorwagte en haweloses het hul by die inwoners aangesluit en fluks gehelp met die opruiming.

’n Plofbare situasie het op die hoek van Minnaar- en Chris Hanistraat ontstaan toe betogers die inwoners wat besig was om op te ruim, uitgejou en as “rassiste” en “verraaiers” uitgekryt het.

Opruimers het hulle egter nie aan die uitjouers gesteur nie en aanhou opruim. Die Pos het gesien hoe betogers weer rotse en randstene in die paaie plaas om die opruiming te ontwrig.

Sakelui en inwoners het egter teen 15:00 teruggekeer na dié kruising toe betogers al huiswaarts gekeer het om die strate op te ruim.

Dit was teen druktyd onbekend of die protesaksie voortgesit sou word, maar van die betogers het aan Die Pos gesê hulle sal nie ophou met protesaksies nie; selfs al word hulle met afdankings of boetes gedreig.

Tinus Ras, DA-raadslid wat deurtentyd op die toneel betrokke was, het sy dank uitgespreek teenoor inwoners wat gehelp het om die dorp op te ruim.

  • Skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos met jou slimfoon deur die PixzAR-toep om die video te sien.

Related Articles

Back to top button