MunicipalNews

Munisipale bestuurder dien bedanking in

Sello Michael Makhubela, munisipale bestuurder van Bela-Bela, het op Maandag 1 Maart amptelik uit sy pos as die munisipaliteit se hoofuitvoerende beampte getree.

Dit volg te midde van ongekende woede by inwoners van Bela-Bela oor die munisipaliteit se onvermoë om dienste te lewer.

Die dorp gaan gebuk onder die ergste water-, elektrisiteit- en rioolprobleme denkbaar en klagtes daaroor stroom in.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag aan Die Pos gesê die munisipaliteit het op Donderdag 25 Februarie Makhubela se bedanking tydens ’n aanlynraadsvergadering goedgekeur.

“Die munisipaliteit wens hom alle sterkte toe met sy toekomsplanne en wil graag die gemeenskap gerus stel dat die munisipaliteit sal volhou met hul werksaamhede en dat hulle nie dienslewering sal afskeep nie.”

Bewerings dat Makhubela reeds sy bedanking einde verlede jaar vir goedkeuring ingestuur het, kon nie bevestig word nie.

Hy het met sy aanstelling as munisipale bestuurder in April 2018 aan Die Pos gesê hy gaan poog om jaarliks ’n skoon ouditverslag te behaal.

Sy drome het egter nooit ’n werklikheid geword nie. Die ouditeur-generaal het in verlede jaar se ouditverslag gesê hy is diep bekommerd oor die Bela-Bela-munisipaliteit.

Makhubela se bedanking kom te midde van ’n diensleweringskrisis wat deur sommiges as die ergste in die dorp se geskiedenis beskou word.

Plekke soos Bospoort, Noodhulp en Roodepoort ondervind ongekende kragprobleme, die dorp is vol gebarste waterpype, slaggate, vullis, onversorgde openbare parke en rou riool wat opdam. Inwoners kla ook onverpoosd oor die gebrek aan dienslewering by die dorp se verkeersafdeling, die kliëntediensafdeling wat nie navrae beantwoord nie en die feit dat geen opgraderingswerk gedoen word nie.

Die Pos het Makhubela probeer kontak oor sy toekomsplanne, maar die gesprek is kortgeknip met die antwoord dat hy nog ’n laaste vergadering moet bywoon.

Die raad het intussen in ’n amptelike verklaring bekendgemaak dat Jamela Selapyane, hoofbestuurder van korporatiewe dienste by die munisipaliteit, as waarnemende munisipale bestuurder aangestel is.

Tsinyane Mothapo, voormalige hoof van die strategiese ondersteuning-afdeling, is reeds as waarnemende korporatiewe bestuurder in Selapyane se plek aangestel.

  • Munispale werkers het Dinsdag gestaak en die munisipaliteit se deure was gesluit vir die publiek. Sien berig langsaan.

Related Articles

Back to top button