MunicipalNews

Dis NAG in Bela-Bela

Inwoners van Roodepoort en Noodhulp buite Bela-Bela sê hulle stort finansieel en emosioneel in duie weens ’n kragonderbreking wat teen druktyd vandeesweek al langer as twee weke geduur het.

Dié twee uitbreidings, wat meestal uit hoewes bestaan waarop talle sakeondernemings en boerderye bedryf word, gaan al bykans ’n jaar gebuk onder erge diensleweringsprobleme.

Inwoners ondervind sedert Sondag 14 Februarie sporadies kragonderbrekings en die afgelope 14 dae is daar geen kragtoevoer nie. Die Pos word oorval deur inwoners wat óf woedend vir die munisipaliteit óf só moedeloos met die situasie is dat hulle op moedverloor se vlakte beland.

“Geen pompe werk nie. Die diere het nie water nie. Boerderye staan stil. Ons kan nie was of toilette spoel nie. Sakeondernemings maak hul deure toe,” het een inwoner die donker prentjie aan Die Pos geskets. “Ons bestee duisende rande aan kragopwekkers.”

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag aan Die Pos gesê daar is drie transformators in dié omgewing en ’n hoëspanningtransformator in die dorp se nywerheidsgebied wat onklaar is.

Die diefstal van transformators en kabels is deels die oorsaak van belastingbetalers se probleme, het hy gesê. Volgens Ras dra die Bela-Bela-munisipaliteit se gebrekkige instandhouding van infrastruktuur by tot die krisis.

“Belastingbetalers word deur hul diensverskaffer in die steek gelaat.”

Ras het aan Die Pos gesê hy word oorval deur klagtes van inwoners van Roodepoort en Noodhulp, hoewel dié uitbreidings nie in sy kiesafdeling val nie. Boetie Maname, raadslid van Wyk 9 (wat Roodepoort en Noodhulp insluit), word egter deur inwoners daarvan beskuldig dat hy skouers optrek oor die dienslewerings- probleme in sy wyk en nie aan inwoners rapporteer wat aangaan nie.

“Valley de Souza, plaaslike elektrisiën en kontrakteur, het tydelik een van sy eie transformators aan die betrokke gebied beskikbaar gestel, maar twee ander transformators, asook die een in die nywer- heidsgebied, moet steeds vervang word,” het Ras gesê. “Die munisipaliteit het intussen geld beskikbaar gestel om nuwe transformators en ander toerusting te koop. Die kragprobleem behoort teen Vrydag 5 Maart herstel te wees.”

’n Munisipale watertrok is intussen beskikbaar gestel vir inwoners van die omgewing. Die trok is daagliks by Peet se Padstal op die Thabazimbi-pad waar mense water kan afhaal.

Diensleweringsprobleme in die omgewing plaas ook die buurtwagte onder druk.

Veiligheidstelsels en kameras wat buite werking is weens die kragonderbreking het vir misdadigers die geleentheid geskep om toe te slaan.

Inwoners staan nou snags self wag by hul woonhuise, elektriese toerusting en pompe, het Die Pos verneem. Inwoners sny ook self die lang gras onder die transformators sodat diefstal of vandalisme aan infrastruktuur beter beheer kan word. Volgens ’n buurtwaglid van die omgewing verhoog die kragonderbrekings die gevaar vir mense wat die omgewing patrolleer en is hul veiligheid in gedrang.

Die meeste van die buurtwagte in die omgewing is by AfriForum geaffilieer en ontvang ondersteuning van dié burgerregte-organi- sasie. Die gebied strek egter baie wyd en daarom het hulle bykomende hulp van inwoners nodig.

Mense wat skenkings aan die buurtwagte van Noodhulp en Roodepoort wil maak, kan vir Paul Mathews van die Roodepoort-buurtwag bel by tel. 082 568 4168. Inwoners van die Bospoort-omgewing het ook die afgelope week gebuk gegaan onderkragonderbrekings.

Volgens een inwoner toon die verslag van die veiligheidsonderneming dat die kragtoevoer by dié woning op een dag minstens 12 keer aan- en afgegaan het. Inwoners kla dat hul huishoudelike toestelle en waterpompe beskadig word hierdeur. Bospoort ondervind ook gereeld water- en rioolprobleme.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie gesê ’n span tegniese werkers is reeds in die omgewing besig om “van kragpunt na kragpunt” te beweeg om die fout op te spoor. Op bewerings dat die munisipaliteit se kliëntedienssentrum nie oproepe beantwoord nie, het Mosito gesê die sentrale munisipale telefoonlyn kan slegs een oproep op ’n slag hanteer.

Inwoners moet maar bly skakel totdat die telefoonlyn beskikbaar is, het hy gesê.

  • Marcelle Maritz, die Vryheidsfront-Plus se provinsiale leier, het teen druktyd ’n sterkbewoorde verklaring uitgereik waarin sy sê die kragsituasie in Bela-Bela is onaanvaarbaar. Die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) het volgens haar ’n dringende skrywe aan Limpopo se LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) gerig nadat die party geen reaksie uit die Bela-Bela-munisipaliteit kon kry oor die voortslepende kragkrisis nie.

    “Die munisipaliteit is telkens gewaarsku oor ’n ou transformator wat nie meer herstel of vervang kon word nie. Dié waarskuwing het op dowe ore geval,” het Maritz gesê.

    “Gesien in die lig van die benarde finansiële toestand waarin dié munisipaliteit hom bevind, sal geen verskaffer van dienste of goedere toerusting op krediet aan dié munisipaliteit lewer nie. Intussen ly mens en dier onder die gebrek aan elektrisiteit.”

    Maritz het gesê sy lê die agteruitgang van Bela-Bela as toerismedorp voor die deur van onbevoegde amptenare wat die munisipaliteit se geldsake “soos hul eie spaarvarkie” bestuur. Sy het gesê die party sal die kwessie tot op nasionale vlak beveg indien provinsiale bestuur nie dringend ingryp nie.

    “Hierdie is ’n growwe menseregtesken-ding deur die munisipaliteit. Inwoners betaal getrou hul belasting aan die munisipaliteit en verdien die dienste waarvoor hulle ten duurste betaal.”

Related Articles

Back to top button