MunicipalNews

Inwoners spring self in om dorp te verfraai

Die Bela-Bela-munisipaliteit word die afgelope jaar erg gekritiseer oor dienslewering en instandhouding wat agterweë bly.

Talle inwoners sê die enkele slaggate in Lunaweg wat gevul is en die enkele straatligte wat vervang is, paai hulle nie meer nie.

Nico en Danica van den Berg en ’n paar ander inwoners het verlede week ingespring en ’n groot deel van Robertson- en Groblerweg eiehandig skoongemaak.

Die middelman se bossies is uitgehaal en vullis is opgeruim. Hulle het selfs van die bome en struike wat té welig groei, gesnoei.

 

Voordat inwoners ingespring en begin mooimaak het.

 

Dié straat, met sy baie kruisings, lyk aansienlik netjieser ná hul harde werk.

“Ons woon eintlik in Reitzstraat, maar ry gereeld in Robertsonweg. Dit is ’n toegangsroete vir baie toeriste en die onnetheid was nie ’n goeie beeld vir ons dorp nie. Ons het besluit ons doen dit self. Ons het niemand se toestemming gevra nie,” het Nico aan Die Pos gesê.

Hy meen hoewel dit die munisipaliteit se verantwoordelikheid is, kan elke inwoner darem net die terrein of sypaadjie voor hul erwe skoonhou en verbeter.

Dit sal die dorp dadelik beter laat vertoon vir besoekers. Selfdoenprojekte deur inwoners en organisasies wat burgerregte beskerm, was reeds baie suksesvol in ander dorpe in die Waterberg en elders in die land.

Maar waar begin ’n mens en hoe word dit georganiseer sonder om op die verkeerde tone te trap? Magdel Strauss, AfriForum se provinsiale distrikskoördineerder, het by navraag gesê AfriForum het reeds in Mookgophong en Modimolle bekend geraak vir selfdoenprojekte.

Sy het gesê dit is veral nodig dat inwoners nie in splintergroepe verdeel nie, maar as ’n georganiseerde forum saam die bul by die horings pak.

“Indien daar byvoorbeeld ’n foutiewe straatlig voor ’n eiendom is wat vervang moet word, rig die plaaslike tak van AfriForum ’n skrywe aan die munisipaliteit dat ons dit self wil vervang. As hulle nie reageer nie, doen ons dit in elk geval. Ons het geakkrediteerde diensverskaffers wat ons met die nodige onderdele en toerusting kan voorsien en die geld word vanuit ons hoofkantoor betaal vir die diens gelewer.”

As inwoners oor die nodige kennis beskik om slaggate te herstel, behoort hulle die verkeersafdeling in kennis te stel en die veiligheidsregulasies te volg wanneer die slaggate herstel word, het sy gesê.

“Opruimingsprojekte verg bykans geen toestemming nie. Indien die projek met die hulp van munisipale werkers gedoen word, moet toestemming vooraf verkry word en deeglike beplanning moet gedoen word. Goeie verhoudings kan hierop voortgebou word.”

Inligting oor sulke skenkings kan by AfriForum se hoofkantoor verkry word.

“Ons is tans baie betrokke by skole se voedingskemas, maar ons sal na verwagting in Maart geld beskikbaar hê vir instandhoudingsprojekte. Dit sal uiters voordelig wees as gemeenskapslede met hul naaste AfriForum-tak in verbinding tree en nou reeds die nodige beplanning doen.”

Bel Strauss vir navrae by tel. 081 216 9570.

  • Gebruik die PixzAR-toep op jou foon en skandeer die foto’s in die gedrukte uitgawe van Die Pos om die video te sien.

Related Articles

Back to top button