MunicipalNews

Ons soek nóg meubels, stoorgeriewe en personeel, vra verkeersafdeling

Die Bela-Bela-verkeersafdeling loop die afgelope jaar onder fel kritiek van inwoners deur wat meen hul dienslewering is van die swakste denkbaar.

Harde woorde het die afgelope week geval tydens ’n vergadering tussen die munisipale bestuur en die afdelingsbestuur.

Tinus Ras, DA-raadslid, was ook by die vergadering teenwoordig. Die Pos het verlede week berig dat Ras self raadop is nadat ook hy onverrigter sake by die verkeersafdeling moes omdraai.

Die afdelingshoof het tydens die vergadering, waarvan Die Pos ’n notule-afskrif onder oë gehad het, daarop gewys dat hul kantoortoerusting glo nie voldoende is nie.

Daar is glo ’n gebrek aan kantoormeubels, ’n kluis waar belangrike dokumente in veilige bewaring gehou kan word en daar is glo ook nie voldoende beskerming vir die kassiere nie. Voorts is daar sedert 2019 geen volhoubare internet- of telefoonverbinding in die gebou nie.

Die vakante bestuursposte is nie gevul nie en personeel het nie voldoende indiensopleiding ontvang om hul dagtake te kan uitvoer nie.

’n Versoek is reeds vroeër aan die munisipale beplanningsafdeling gerig om ’n kluis of bergingsgerief te bekom om aansoekdokumente veilig te stoor.

Geen terugvoer is hieroor ontvang nie. Die gebrek aan stoorgeriewe by dié afdeling het glo daartoe gelei dat dokumentasie in die gange gestoor moet word en die gevaar is daarom groot dat dokumente beskadig of verlore kan raak.

Dit is luidens die verslag die grootste oorsaak dat aansoekers se vingerafdrukke by herhaling “verlore” raak. Die afdelingsbestuurder het tydens die vergadering versoek dat ’n tydelike stoorplek bewillig word.

Die voorstel is gemaak dat die groot vraghouers wat tans by die Bela-Bela-kliniek in onbruik staan, geskuif word en as stoorruimte gebruik word. Daar is ook ’n dringende versoek gerig dat leerlingbestuurders hul eksamens aanlyn kan aflê om tyd en koste te bespaar.

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sal egter so ’n stelsel moet goedkeur en moniteer. Die proses is volgens inligting begin, maar tans vertraag deur faktore wat nie bekend gemaak is nie. Daar is ook tans geen eksaminators vir lisensieaansoeke beskikbaar nie.

Die beamptes wat padwaardigheidstoetse op voertuie moet hanteer, is ook nie voldoende nie.

Die dringende versoek om vakante poste te vul, is benadruk. Die tekort aan administratiewe beamptes plaas groot druk op die kantoor, het die vergadering gehoor.

Ras het by navraag aan Die Pos gesê die nuwe belofte van munisipale bestuur is dat sleutelposisies in Februarie gevul sal word.

“Die kommunikasienetwerk laat veel te wense oor en het dringend aandag nodig. Die afdelingsbestuur sal moet poog om dit spoedig te verbeter,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button