MunicipalNews

Ongekende vlak van swak dienslewering

Die klagtes van swak dienslewering in Bela-Bela het die afgelope twee weke nuwe hoogtes bereik.

Inwoners is radeloos oor die verval van dié eens spoggerige dorp.

Hoewel die aanhoudende en deurdringende reën van die afgelope twee weke bygedra het tot inwoners se frustrasie, is dit egter nie die oorsprong van die agterstand wat munisipale dienste betref nie.

Van die raadslede met wie Die Pos gepraat het, het gesê hulle word oorval met klagtes en inwoners wat hulle vra om op munisipale bestuursvlak aan te dring op oplossings vir die dorp se probleme.

Die stormwaterstelsel wat nie in stand gehou is of skoongemaak word nie, het grootliks daartoe bygedra dat dele van die hospitaal en woonbuurte in die Bela-Bela-township oorspoel het. Die pompstasie by die watersuiweringswerke het oorspoel en is in die proses beskadig.

Roodepoort, Noodhulp, Bospoort, gedeeltes van die dorp en meer as vier uitbreidings in die Bela-Bela-township het sedert die naweek ook voortdurend kragonderbrekings. Die oorsaak hiervan kan volgens die munisipaliteit se amptelike webblad toegeskryf word aan infrastruktuur wat oorstroom het.

Teen druktyd Woensdagoggend was talle huishoudings steeds sonder krag. Sakepersele in Potgieterstraat, Lunaweg en die Bosveld Mall gaan gebuk onder rioolprobleme. Die rioolstelsel het op verskeie plekke oorstroom en rou riool het in die strate beland.

Sakeleiers sê hulle het die probleem by herhaling aangemeld, maar daar word nie werk van gemaak nie. Daar is ook reeds maande lank ’n ernstige rioolprobleem by die Bela Mall waar riool langs die R101-pad vloei.

Sakepersele in die omgewing van Bela-Bela Car Service & Repairs in Pretoriaweg en Waterberg Toyota in Potgieterstraat sit ook met die hande in die hare weens riool wat gereeld saam met stormwater voor hul persele verbyvloei.

Die munisipaliteit het by navraag gesê die infrastruktuur by die rioolwerke is oud en vervalle en kan nie doeltreffend funksioneer nie.

Sakelui en inwoners sê hul klagtes val op dowe ore of bereik nie die verantwoordelike departementshoofde nie.

’n Vergadering met Michael Makhubela, munisipale bestuurder, en hoofde van departemente is op Maandag 8 Februarie gehou waar die oorsaak van gebreke weer toegeskryf is aan verouderde infrastruktuur. Die geld om instandhouding te doen ontbreek ook.

Tinus Ras, DA-raadslid, meen die swak invordering van munisipale skuld en die afskryf van skuld dra by tot die probleem. Inspeksies of navrae op diensleweringsfoute word volgens hom nie gedoen nie.

“Munisipale invorderings is die laaste ses maande op net 60% beraam, maar salarisse is tot op datum 100% betaal. Die kontantvloei wat instandhouding moet dra is tans onbeduidend en dit veroorsaak dat minder noodsaaklike werk gedoen word. Ek het al baie kere hieroor op die uitvoerende komiteevergaderings gekla.”

Ras het voorts gesê daar is genoeg amptenare om die werk te verrig, maar daar is ’n tekort aan voertuie om probleempunte te bereik.

Die munisipaliteit het in die laaste finansiële jaar (2018/2019) slegs R7 miljoen op instandhouding bestee. Kimi Makwetu, ontslape ouditeur-generaal van Suid-Afrika, het tydens sy laaste ouditverslag kommer oor Bela-Bela uitgespreek. Hy het gesê die werkwyse om salarisse voor krediteure te betaal, stuur op ’n ramp af. Hy het ook gesê werkskomitees moenie politiek bedryf nie. Hul eerste doelwit moet dienslewering wees.

Intussen word planne beraam om ’n sentrale mediagroep te stig sodat die aanmelding van munisipale probleme makliker kan geskied en vordering gemoniteer word.

Die versoek is gerig dat die munisipale bestuurder en onderskeie afdelingshoofde deel van die groep moet wees sodat daar nie ’n verskoning is dat klagtes nie ontvang is nie. Die voorstel is ook gemaak dat klaers verwysingsnommers moet ontvang wat elektronies toegeken word sodra daar ’n klagte aangemeld is.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het ná talle navrae teen druktyd nog geen inligting oor die stand van sake bekendgemaak nie.

  • Skandeer die foto met in die gedrukte weergawe van Die Pos met jou slimfoom om die video op PixzAR toep te sien

Related Articles

Back to top button