MunicipalNews

Distrik kry nuwe brandweerwaens

Die Waterberg spog met ses nuwe volledig toegeruste brandbestrydingsvoertuie.

Daar is ook drie nuwe voertuie wat die reaksiespan vinnig na noodtonele kan vervoer en inspeksies kan doen.

Morris Mataboge, uitvoerende burgemeester van die Waterberg-distriksmunisipaliteit, het tydens die amptelike oorhandiging van die voertuie op Vrydag 11 Desember 2020, gesê elkeen van die vyf munisipaliteite in die Waterberg-distrik sal ’n nuwe brandbestrydingsvoertuig ontvang.

 

Die nuwe brandbestrydingsvoertuie.

 

Volgens Mataboge het die Waterberg-distriksmunisipaliteit (WDM) ’n bedrag van ongeveer R50 miljoen bewillig om hierdie nuwe brandbestrydingstoerusting en -voertuie te koop.

Die Pos het gaan aanklop by Dan Mokonyama, brandweerhoof van die WDM. Hy is reeds sedert 1 Oktober 2010 in die pos aangestel en was voorheen vir 19 jaar as afdelingshoof van die brandweeropleidingsentrum in Polokwane betrokke.

“Chief Dan”, soos mense na hom verwys, het Die Pos meer vertel van die verbeterings en nuutste tegnologie wat ingespan is in die nuwe brandweerwaens.

“Een van die grootste verbeterings is dat dit toegerus is met verskeie koppelstukke sodat die brandslang op verskillende tipes brandkrane kan pas. Dit verseker dat die voertuie altyd hervul kan word op die toneel van die brand.”

“Hierdie voertuie word gebruik vir strukturele brande in geboue en nie vir brande in landelike areas, informele nedersettings of veldbrande nie,” het hy gesê.

“Water word teen hoëdruk gelewer en kan ongeveer 3 850 liter per minuut hanteer. Daar is ook spesiale toerusting gekoppel aan die brandslang wat skuim maak.”

Volgens Mokonyama word die drie kleiner voertuie gebruik vir brandbeveiliging en -voorkoming, asook om brandkrane gereeld na te gaan.

Daar is in Maart 2020 altesame 12 junior brandbestryders in die Waterberg-distrik aangestel wat deel vorm van die 39 lede van die brandbestrydingspan, het hy gesê.

Die Pos het ook gesels met John Kekana en Isaac Sithole, wat die afgelope 10 jaar brandbestryders by die Modimolle-brandweerstasie is. Hulle het gesê die Modi-span bestaan uit vyf senior brandbestryders en een junior vrou wat ’n jaar gelede by die span aangesluit het.

Karel Niewenhuis, VF-Plus raadslid in die WDM, en portefeuljekomiteelid vir gemeenskapsdiens, het aan Die Pos gesê voordat die brandweerdiens in 2017 deur die WDM oorgeneem is, was daar geen beheer en leiding nie en voertuie was in ’n haglike toestand.

“Met slegs 39 opgeleide brandweerpersoneel is dit haas onmoontlik om die hele Waterberg-distrik te bedien. Die streek strek vanaf Modimolle, Mookgopong, Bela-Bela, Mogalakwena, Thabazimbi tot by Lephalale.”

Volgens Niewenhuis is daar ’n tekort van minstens 80 opgeleide brandweerpersoneel en moet die brandweerstasies in Thabazimbi en Mookgophong weer funksioneel word.

Die brandweergebou in Mookgophong is — heel ironies — in April 2018 in ’n brand vernietig.

Volgens Mokonyama is daar onderhandelinge onderweg met die ArcelorMittal-myn in Thabazimbi om die brandweerstasie te huisves op dieselfde perseel as wat die myn se rampbestuur afdeling is.

  • Skandeer die foto met in die gedrukte weergawe van Die Pos met jou slimfoom om die video op PixzAR toep te sien.

Related Articles

Back to top button