MunicipalNews

Dienslewering het inwoners op hul knieë

Bela-Bela-inwoners sit met die hande in die hare oor onbeplande kragonderbrekings wat feitlik daagliks sake ure lank ontwrig.

Die Bela-Bela-munisipaliteit trek by navraag net skouers op en sê dat die onderbrekings veroorsaak word deur kontrakteurs wat besig is met opgradering van infrastruktuur.

Inwoners van die Roodepoort- en Noodhulp-hoewes moes die afgelope naweek vir ’n paar dae sonder elektrisiteit klaarkom nadat daar tegniese probleme by die hoëspanningstransformator in die nywerheidsgebied ontstaan het.

’n Woordvoerder van die munisipaliteit het by navraag aan Die Pos gesê daar sal na verwagting nog vir tot 14 dae nie elektrisiteit in dié omgewing wees nie. Inwoners van Bospoort was einde verlede jaar ook vir dae sonder krag nadat ’n soortgelyke transformator onklaar geraak het.

Talle inwoners van Noodhulp en Roodepoort maak staat op elektrisiteit om boorgatpompe, veiligheidstelsels en ander noodsaaklike stelsels en toerusting te bedryf. Van die inwoners het gesê hul sakebedrywe kom tot ’n stilstand as die elektrisiteitvoorsiening onderbreek word.

Die Pos het die afgelope week etlike skrywes van inwoners ontvang wat ongelukkig is met die toedrag van sake. Hulle sê ondanks hoë tariewe wat deur die Bela-Bela-munisipaliteit gehef word, moet hul bykomende koste aangaan om kragopwekkers te koop om net die noodsaaklike huishoudelike toestelle te gebruik.

In die skrywes word gemeld dat dienslewering agteruit gaan en dit word toegeskryf aan gebrekkige onderhoud en instandhouding.

’n Vergadering is op Maandag 1 Februarie met die munisipale bestuur en ’n paar inwoners van Roodepoort en Noodhulp belê. Tinus Ras, Wyk 1-raadslid van die DA, is deur die munisipaliteit gevra om in te tree omdat Boetie Maname, wyk 9 se ANC- raadslid, nie beskikbaar was om inwoners te woord te staan nie.

Die munisipaliteit het tydens dié vergadering gesê die dorp se infrastruktuur is oud en moet teen ’n hoë koste vervang word. Inwoners het egter beweer dat hulle kenners genader het wat meen dat dit eerder ’n geval is van instandhoudingswerk wat nie gedoen word nie.

Valley de Souza, plaaslike elektriese kontrakteur en voormalige tegniese hoof van die munisipaliteit, se hulp is ingeroep om die foutiewe transformator te herstel. Hy word gereeld gekonsulteer om ernstige diensleweringsprobleme op te los.

Teen druktyd is die meeste inwoners se kragtoevoer herstel.

  • ’n Ontstelde inwoner van Wyk 4 in die Bela-Bela-township, Johannes Molekoa, het Die Pos gekontak in verband met vloedskade in die Skierlik-omgewing.

    Volgens Molekoa is daar reeds in 2005 beloftes aan die gemeenskap gemaak dat die stormwaterstelsel en die onbegaanbare paaie in dié omgewing dringend aandag sal kry en verbeterings sal aangebring word. Dit het nooit gebeur nie en die probleem word jaarliks groter.

    Verskeie plekke het die afgelope week ná hewige reënbuie in die omgewing verspoel. Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het in reaksie aan Die Pos gesê vergaderings sal eersdaags met die betrokke afdelings plaasvind om die dorp se infrastruktuur te bespreek.

    Teen druktyd was daar nog geen antwoorde oor die pad vorentoe nie.

Related Articles

Back to top button