MunicipalNews

Interdik teen munisipaliteit

Die hooggeregshof in Polokwane het op Dinsdag 1 Desember ’n interdik toegestaan wat EMS/Lingani JV teen die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit gebring het.

Dit het gevolg ná ’n hofuitspraak in Maart vanjaar tussen Eskom en die munisipaliteit oor agterstallige betalings.

“Die uitspraak het bepaal dat 60% van die geld wat die munisipaliteit invorder, elke Vrydag aan Eskom oorbetaal moet word. Die ander 40% moet aangewend word vir kliëntediens en onderhoud op kraglyne,” het Marlene van Staden, burgemeester, aan Die Pos verduidelik.

’n Onderhoudsplan is volgens haar reeds in Junie vanjaar beskikbaar gestel om veral die buitelyne op te gradeer.

Daar is sowat 168 km buitekraglyne wat gediens moet word. Bykans geen onderhoudswerk is tydens die Covid-19-inperkingstyd gedoen nie. 

Die 60% is wel stiptelik oorbetaal, het sy gesê. EMS Lingani/JV is die konsultante wat in Oktober 2019 deur die munisipale bestuurder, dr. Melusi Shepard Mhlanga, aangestel is om die dorp se elektrisiteitsprobleme te ondersoek en oplossings vir probleme te vind.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van AfriForum in Mookgophong, moet die konsultante binne ’n tydperk van drie jaar elektrisiëns oplei om die verlangde diens te verrig. Die interdik bepaal dat alle geld wat ontvang word van kliënte vir elektrisiteitsaankope in ’n aparte rekening geplaas moet word. Die munisipaliteit moet vir die periode sedert Oktober 2019 tot Desember 2020 rekenskap gee van die aanwending van al die geld in hierdie rekening en aan EMS/Lingani JV ’n verslag daaroor voorlê.

Die munisipaliteit is ook beveel om R29 miljoen in hierdie rekening terug te betaal wat glo wederregtelik aan ander uitgawes bestee is.

Die munisipaliteit mag volgens die hofuitspraak geen geld wat in hierdie rekening is aanwend vir projekte wat nie elektrisiteitsverwant is nie (Eskom-betalings, opgradering van infrastruktuur en onderhoud aan elektriese toerusting). Die hof het bepaal dat die munisipaliteit EMS/Lingani JV se regskoste moet betaal.

Marlene van Staden het in ’n verklaring gesê daar was ’n aansienlike styging in die munisipaliteit se inkomste sedert die konsultante in Oktober 2019 aangestel en daar met die oorbetaling begin is.

“Danksy dié besluit kon die munisipaliteit 60% van alle inkomste uit elektrisiteitsverkope weekliks aan Eskom oorbetaal. Tot op hede is ’n totale bedrag van R150 miljoen al aan Eskom betaal.”

Sy het sedert September 2019 in verskeie mediaverklarings die aanstelling van EMS/Lingani JV verwelkom en aangedui dat sy die uitspraak ondersteun.

Sy is ook van mening dat die amptenary nou sal moet seker maak dat die inkomste uit die verkoop van elektrisiteit wel aan elektrisiteitsdiens bestee word, met die klem op die onderhoud en verbetering van infrastruktuur.

Die munisipaliteit sal ook ’n gedetailleerde verslag lewer oor al die items wat uit die aparte elektrisiteitsrekening gefinansier is sedert dit in Oktober 2019 afgeskop het, het sy gesê.

Related Articles

Back to top button