AdvertorialNews

Laat die Land Cruisers weer dié naweek brul

Die agste Hankook Land Cruiserfees word dié naweek (27-29 November) by die Sondela-natuurreservaat & Spa buite Bela-Bela aangebied.

Weens die Covid-19-inperkings word slegs ’n beperkte aantal deelnemers en besoekers toegelaat en daarom het die organiseerders besluit om nie weer vanjaar die amptelike Afrika-rekord van Land Cruisers op dieselde terrein te probeer verbeter nie, maar dit eerder as ’n nie-amptelike uitdaging aan te pak.

 

 

Deelnemers kan egter presies dieselfde pret en plesier verwag as in die verlede.

Die formasie van voertuie en die roete wat die voertuie op die plaas (met sy bekende “watergat” langs die pad) sal volg, sal weer daar wees. Daar is nog enkele boskamperingsplekke (met vol ablusie, maar geen krag) beskikbaar, maar alle ander akkommodasie by Sondela-natuurreservaat is reeds vol.

Die program sal weer verskeie uitdagings aan Land Cruiser-eienaars bied en vir toeskouers baie vermaak verskaf. Daar sal ’n verskeidenheid stalletjies met produkte wees wat vanjaar se Kersinkopies sal vergemaklik.

Daar sal ook weer feeskos uit die boonste rakke wees, asook kroeggeriewe. Die bekende Joe F en Heidi tree op en sal beslis die besoekers se voete laat jeuk. Vir die avontuurlustiges is daar weer helikopterritte en Sondela bied ook ’n informele bergfietswedren op die natuurreservaat se terrein aan.

Die hele gesin is welkom om daaraan deel te neem. Die jongspan kan uitsien na allerlei prettige aktiwiteite in ’n veilige omgewing.

Die oord beskik oor warm- en kouewaterswembaddens wat vir feesgangers beskikbaar sal wees.

Land Cruiser-eienaars word aangemoedig om dié naweek te gebruik om ’n bietjie weg te breek saam met die gesin vir ’n naweek gevul met pret en avontuur.

Sondela is slegs 80 km vanaf Pretoria. Elke deelnemer ontvang ’n geluksakkie met ’n paar verrassings in soos ’n unieke Cruiserfees-pet, plakker, vleissous, wyn en nog ’n paar lekkernye.

Om vir die boskampering te bespreek, gaan gerus na www.ekspo.co.za of bel vir Tersia by tel. 071 659 9915 of stuur vir haar e-pos na accounts@ekspo.co.za vir meer inligting.

Streng Covid-19-maatreëls sal tydens die fees toegepas word.

Related Articles

Back to top button