MunicipalNews

Pos jou klagtes direk parlement toe

Belastingbetalers wat ’n appeltjie te skil het met hul plaaslike munisipaliteit oor dienslewering, maar nie reaksie kry op hul klagtes nie, het nou ’n alternatiewe manier om gehoor te word.

Desirée van der Walt, DA-LP, het op Maandag 16 November die “poskaart na parlement-veldtog” in Bela-Bela geloods waar inwoners hul klagtes op ’n poskaart kan skryf en na die parlement in Kaapstad pos.

Die dorpe wat tans aan die veldtog deelneem, is Bela-Bela, Thabazimbi en Tzaneen.

Talle mense het die groep DA-verteenwoordigers in die parkie op die hoek van Minnaar- en Moffatstraat (oorkant Die Pos) ontmoet en hul klagtes op ’n poskaart neergepen wat nou aan die parlement voorgelê sal word.

“Inwoners kon enige dienslewerings- klagtes soos kragprobleme, rioolprobleme of slaggate onder die parlement se aandag bring. Indien daar bewerings van korrupsie gemaak word, moet die klagtes met bewyse ondersteun word.”

Van der Walt het gesê die poskaarte sal in haar kantoor in Kaapstad verwerk word en die klagtes sal aan die betrokke departemente voorgelê word vir optrede.

“Ons heg dan wetgewing aan die klagtes wat betref die spesifieke rol wat ’n munisipaliteit in terme van wetgewing versuim het om uit te voer en wat tot die klagte gelei het. Die speaker van die parlement lê die insette voor en daarna word besluit of die klagtes verder ondersoek moet word,” het sy gesê.

“Sodra die vrae volgens die wetlike prosedure ingedien is, word tien werksdae gegun vir reaksie op die vrae. Sodra ek die antwoorde het, sal ek terugvoer aan die gemeenskappe deurgee.”

Die DA se verteenwoordigers beoog om tuisbesoeke te bring en inwoners die geleentheid te bied om hul griewe en klagtes op skrif te sit. Inwoners wat Van der Walt wil kontak of poskaarte wil bekom vir klagtes, kan haar bel by tel. 079 145 3923.

  • Sien ook PixzAR-videoskakel op bladsy 6 in gedrukte weergawe van Die Pos.

Related Articles

Back to top button