MunicipalNews

Munisipaliteit skryf skuld af

Bela-Bela-inwoners wat ’n agterstallige eiendomsbelastingrekening het, kan nou 50% korting op hul skuld kry op voorwaarde dat hulle dadelik die uitstaande bedrag vereffen.

Dié nuus is op Woensdag 4 November in ’n munisipale verklaring bekend gemaak.

Die amptelike rede vir dié welwillendheidsgebaar van die munisipaliteit is glo om inwoners wat swaar gekry het weens die Covid-19-pandemie by te staan en hul skuldlas te verlig.

Die verklaring dui aan dat die vergunning, wat in Oktober deur die munisipale raad goedgekeur is, van 1 November vanjaar tot 28 Februarie 2021 sal duur. Belastingbetalers sal in aanmerking kom vir die vergunning indien hulle reeds voor 30 Junie vanjaar opgehoopte munisipale skuld gehad het, lui die verklaring.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het in reaksie gesê die munisipaliteit tree ingevolge die grondwet onbillik op teen gereelde betalers deur die wanbetalers te “beloon” vir opgehoopte skuld.

Tinus Ras, DA-raadslid, is van mening dat sulke kortings slegs geldig is as daar in die munisipale begroting reeds voorsiening gemaak is vir die verlies aan inkomste.

Hy sê die DA het reeds navraag gedoen of die korrekte prosedure gevolg is. Dié ingrypende besluit is geneem deur ’n komitee wat saamgestel is uit topamptenare.

Die beleid is tans op die munisipaliteit se webwerf beskikbaar. Daar is verskeie redes wat in die beleid aantoon wanneer ’n vergunning van 50% korting op uitstaande rekeninge toegestaan kan word. Dit sluit byvoorbeeld in insolvensie, belastingbetalers wat verhuis het en nie opgespoor kan word nie en hulpbehoewende mense wat nie bykomende betalings kan maak nie.

’n Reëling kan steeds met die munisipaliteit getref word om uitstaande skuld in kleiner bedrae terug te betaal.

“Ons versoek dat gereelde betalers ook by die vergunning moet baat vind. Elke belastingbetaler behoort gelyke behandeling te kry,” het Mills gesê.

Kabelo Mosito, munisipale woord- voerder, het aan Die Pos gesê die raad stel ondersoek in na die versoek dat gereelde betalers ook op ’n manier bevoordeel word. Die beleid maak egter tans slegs voorsiening vir wanbetalers.

Volgens Mills bestaan die kommer boonop of die verlies aan inkomste ’n negatiewe uitwerking op diens- lewering sal hê.

Die munisipale dienste is tans reeds onder groot druk en sal na verwagting onder meer druk wees wanneer al meer mense die dorp tydens die feessei- soen besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button