MunicipalNews

Inwoners se gemoedere vlam op oor kragtoevoer

Inwoners van Bospoort in Bela-Bela was die afgelope week warm onder die kraag nadat ’n hoëspanningstransformator beskadig is en inwoners in dié gebied vir ’n week sonder kragtoevoer moes klaarkom.

Die transformator is op Saterdag 7 November deur stormweer beskadig.

Inwoners het aan Die Pos gesê hulle kan verstaan dat transformators aan die natuur blootgestel is, maar hul frustrasie spruit uit die feit dat die munisipaliteit nie die beskadigde transformator binne ’n redelike tyd kon herstel of vervang nie.

Die munisipaliteit het inwoners voortdurend op hul Facebook-blad op hoogte gehou van die vordering.

Verskeie inwoners het aan Die Pos gesê hulle veiligheidstelsels is nie meer doeltreffend wanneer die krag só lank af is nie en dat hulle onveilig gevoel het. Talle inwoners het laat weet hulle is genoop om duisende rande se gevriesde vleis en groente weg te gooi.

Die kragtoevoer is om middernag op Saterdag 14 November herstel. Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag gesê die munisipaliteit het nie die geld beskikbaar gehad om ’n nuwe transformator te koop nie. Die onderdele wat nodig was om die verbruik te herstel, is eers Woensdag 11 November bekom.

Die herstelproses is verder vertraag deur spesifieke aanduidings van die vervaardiger van die transformator waaraan voldoen moes word om te voorkom dat kort- sluitings die transformator weer in die toekoms beskadig, het Ras gesê.

Hy het gesê die DA het reeds vrae by die munisipaliteit ingedien oor die munisipaliteit se onvermoë om sulke pro- bleme binne ’n redelike tyd op te los.

Bospoort-inwoners se vreugde was van korte duur toe die munisipaliteit hulle op Maandag 16 November op hul Facebook-blad ingelig het dat hulle wéér vir ’n paar uur sonder krag is.

Dié keer was dit egter omdat werkers boomtakke wat kragdrade beskadig, moes snoei. Dié projek is georganiseer deur sakemanne Ben en Leon Grobler, in samewerking met Valley de Souza, elektrisiën van die dorp.

Die munisipaliteit het die werkers bewillig om te help om bome te snoei.

Related Articles

Back to top button