MunicipalNews

Onderneming meer as 2 000 keer sonder krag

“Ons het reeds meer as R200 000 se skade self herstel. Om die munisipaliteit te bel, help net mooi niks!”

Die geduld van die personeellede van die De La Rey’s kroeg en restaurant op die Thabazimbi-pad net buite Bela-Bela is ná jare se gesukkel op.

Die onderneming het die afgelope drie jaar reeds meer as 2 000 kragonderbrekings ervaar. Hul navrae en klagtes val op dowe ore al lyk dit asof die kragonderbrekings aan foutiewe munisipale infrastruktuur toegeskryf kan word.

De La Rey’s is bekend in die omgewing vir sy bakkery, biltongwinkel en kroeg. Lenus Lubbe, mede-eienaar van die perseel, het aan Die Pos gesê dit gebeur gereeld dat een of ander elektriese apparaat by die perseel onklaar raak weens die kragonderbrekings.

Dit het ’n groot finansiële implikasie wanneer toerusting vervang moet word.

“Ons het reeds meer as R200 000 se skade self herstel. Om die munisipaliteit te bel, help net mooi niks, want hulle daag op, skep ’n tydelike oplossing en kort voor lank het ons weer kragonderbrekings.”

Die bewyse vir die hoeveelheid kere wat die krag af gegaan het, is aangeteken in die perseel se kragopwekker-logboek. Daar is ook ’n aanduiding van hoeveel brandstof Lubbe die afgelope drie jaar vir dié kragopwekker gekoop het. Lubbe is van mening dat die pro- bleem by die nabygeleë munisipale transformator lê.

“As ’n gewone mens soos ek my perseel — wat vervalle was toe ek hier aangekom het — sonder moeite kon herstel en opbou, hoe kan die mense by die munisipaliteit, wat oor die nodige kwalifikasies beskik, nie ’n eenvoudige kragprobleem ná soveel jaar oplos nie?”

Lubbe het voorts gesê die tegnici by die munisipaliteit verkies boonop om gereeld na-ure die werk te kom doen sodat hulle oortydvergoeding kan eis.

“My varsprodukte gaan tot niet, ons bankkaartmasjien en internet gaan van lyn af en die kroeg se atmosfeer word bederf sodra ons die kragopwekker moet aanskakel. Ons beplan ons dag al só dat ons byvoorbeeld in die bakkery weet hoe lank tyd ons nodig het voordat die krag dalk weer af is. Dit is egter ’n opdraande stryd om ’n wins te maak as ’n mens gedurig vars- produkte moet vervang en toerusting moet herstel,” het Lubbe gesê.

Diewe is ook deeglik bewus van die kragonderbrekings en het al by meer as een geleentheid ingebreek as hulle weet die alarms is buite werking. Hy is uiters dankbaar teenoor die gemeenskap wat die onderneming, ondanks die kragprobleme, bly ondersteun.

Lubbe het voorts gesê al wat die probleem sal oplos is om die transformator waar die probleem vermoedelik lê, te vervang, of om net ’n dak oor die toerusting te bou om dit teen hitte en reën te beskerm.

“Ek wil regtig nie baklei of die munisipaliteit dagvaar vir skade en swak dienslewering nie. Ek wil net konstante kragvoorsiening hê sodat ons ’n lewe kan maak. Dan is ons almal gelukkig.”

  • Die kragprobleem is weer onder die aandag van die munisipale bestuur gebring. Senior amptenare beoog glo om gedurende hierdie week besoek te bring aan plekke waar dienslewe- ringsprobleme ondervind word sodat stappe gevolg kan word.

Related Articles

Back to top button