MunicipalNews

Nuwe wyksindeling is ‘slinkse plan’

Die kiesersgebied van wyk 1 in Bela-Bela het aansienlik vergroot nadat die munisipale verkiesingsraad (MAR) op Vrydag 2 Oktober hul nuutste afbakening vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing bekend gemaak het.

Die grense van wyk 1, wat ’n groot gedeelte van die dorp se woonhuise en sakepersele insluit, het nou ’n gedeelte van Roodepoort en Noodhulp bygekry.

Die MAR hersien munisipale gebiede se grenslyne elke vyf jaar in aanloop tot die nasionale verkiesing. Die datum vir aanstaande jaar se munisipale verkiesing moet nog aangekondig word. Die DA het vir twee agtereenvolgende verkiesings meer as 90% steun in wyk 1 geniet.

Moses Mariga, die DA se provinsiale woordvoerder, het by navraag gesê die jongste wyk 1-wysigings is ’n slinkse poging om die opposisie in Bela-Bela te verswak deur dit moeiliker te maak vir opposisielede om op die munisipale raad te dien.

Wyk 9, waarvan Roodepoort en Noodhulp voorheen deel was, het in 2018 tydens ’n tussenverkiesing ’n speelveld vir politici geword. Boetie Maname van die ANC het Eddie Aschendorf van die DA tydens 2018 se wyk 9-tussenverkiesing met 866 stemme teenoor 817 geklop en sodoende wyk 9 vir die ANC verseker.

Daar het slegs 1 827 van die 4 248 geregistreerde kiesers in dié verkiesing gestem.

Wyk 1 se kiesers kon voorheen by die NG Warmbad Moedergemeente in Mentzlaan of by Laerskool Warmbad stem. Peet se Padstal word nou as bykomende stempunt vir wyk 1 beskikbaar gestel omdat Noodhulp en Roodepoort by wyk 1 ingesluit word.

Jacques Smalle, die DA se provinsiale leier, het reeds aangedui dat hulle beswaar gemaak het teen die gewysigde wyk 1-afbakenings en dit aan die MAR gestuur het. Die DA versoek die gemeenskap om ook beswaar aan te teken.

  • Die grenslyne van munisipale gebiede word gewoonlik gewysig sodra die getal kiesers in ’n wyk meer of minder word. Die nuutste syfers wat as riglyn dien vir die afbakening van ’n wyk is 3 928 kiesers per wyk.

    Altesame 30 000 kiesers is tydens die vorige nasionale verkiesing in die Bela-Bela-omgewing geregistreer, maar minder as 19 000 het hul kruisies gaan trek. Die MAR het reeds vroeg in 2019 met ’n openbare konsultasieproses begin, maar weens die Covid-19-pandemie is openbare vergaderings tot individuele vertoë beperk.

    Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het nog nie die registrasieproses heropen vir die 2021-verkiesing nie, maar kiesers kan intussen die OVK se webwerf besoek om vas te stel of hulle steeds geregistreer is om te stem.

    Kiesers moet ook seker maak dat hulle hul kruisies by die korrekte stempunt gaan trek. Die OVK is tans besig met voorbereiding vir nasionale tussenverkiesings wat op Woensdag 11 November sal plaasvind. Daar is voorlopig geen tussenverkiesings in Die Pos se lesersgebied nie.

    Die nuutste gewysigde wykafbakenings is reeds aan die begin van Oktober in die provinsiale Staatskoerant gepubliseer en kiesers het nog geleentheid tot op Vrydag 16 Oktober om besware aan die MAR te e-pos by registery@demarcation.org.za(.) Beswaarvorms is op die MAR se webtuiste beskikbaar. Die kaarte kan besigtig word by www.demarcation.org.za(.)

Related Articles

Back to top button