MunicipalNews

Koppe bymekaar oor munisipaliteit se geldkoffers

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Woensdag 30 September ’n virtuele raadsvergadering gehou.

Dr. Melusi Mhlanga is tydens die vergadering weer as waarnemende munisipale bestuurder aangestel. Jones Mokwele sal intussen Mhlanga se pos as hoof- finansiële beampte in waarnemende hoedanigheid vul.

Dié pos kan steeds nie gevul word nie nadat Henry Lubbe, bestuurder van korporatiewe dienste, in 2018 ’n hofbevel teen die munisipaliteit aangevra het, het Marlene van Staden, burgemeester, by navraag aan Die Pos gesê.

Lubbe het in die hooggeregshof aangevoer dat die vorige munisipale bestuurder, OP Sebola, onregmatig op die kortlys geplaas is en sy eie aansoek onregmatig afgekeur is. Die munisipaliteit het ook weer ’n adviseur van die nasionale tesourie ontvang nadat Mervin Reddy se kontrak in Maart verstryk het.

Dit is deel van die nasionale tesourie se finansiële verbeteringsprogram vir munisipaliteite (MFIP). Nadat die munisipaliteit ’n versoek gerig het dat daar weer ’n adviseur aangewys word, het Kgakgamatso Mathebe die pos gevul.

Die raad het ook ’n verslag van die ouditkomitee ontvang rakende die 2016/2017- en 2017/2018-boekjare wat besonderhede uitwys oor ongemagtigde besteding. Van Staden het verduidelik dat die verslag voorgelê is omdat die raad die geld moet afskryf sodat dit nie oorgedra word nie.

Die verslag oor die 2018/2019-boekjaar sal na verwagting die komende week voorgelê word. Die 2019/2020-verslag is na die munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC) verwys om ondersoek te word. Dit moet voor Februarie 2021 afgehandel word sodat dit ingesluit kan word in die jaarlikse verslag.

“Die artikel 32-uitgawes is ingevolge die munisipale finansiële wet beter in die afgelope boekjaar bestuur, maar sal nooit heeltemal verdwyn nie. Die rede hiervoor is dat uitgawes soos rente wat gehef is, steeds geklassifiseer word as vrugtelose en vermorste besteding,” het Van Staden verduidelik.

Die bedrag beloop sowat R60 miljoen. Die raad het ook die eerste aangepaste begroting vir die 2020/2021-boekjaar goedgekeur. Dit het gevolg nadat die munisipaliteit toelaes van die regering ontvang het om die Covid-19-pandemie te bestuur.

“Ons moes bykomende watertenks en watertrokke reël, persoonlike beskermende toerusting aankoop en die personeel moes in skofte werk,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button